Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dertien gesneuwelde Weermag-soldate sal met volle militêre eerbewys begrawe word
# EU-lande stem saam oor nuwe sanksies teen Rusland
# En, tennis: Wada ontken spesiale behandeling vir Jannik Sinner in sy opkikkersaak
# Die Suid-Afrikaanse Weermag het bevestig 13 van die soldate wat in die Demokratiese Republiek die Kongo gesneuwel het, sal vanaf Saterdag tot die eerste Maart met volle militêre eerbewys begrawe word. Die 14de soldaat is reeds in Limpopo ter ruste gelê nadat die lede se oorskot verlede week aan die families oorhandig is. Die 14 soldate het verlede maand in botsings met M23-rebelle in die ooste van die DRK gesterf.
# FNB verwelkom die uitslae van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname wat ‘n toename in die koers van indiensneming toon. Werkloosheid het met 19-duisend-573 afgeneem, wat ‘n daling van 0,2 persentasiepunte in die amptelike werkloosheidskoers tot 31,9-persent verteenwoordig. FNB se senior ekonoom, Thanda Sithole, sê ondanks hierdie positiewe verwikkeling moet nog meer gedoen word om die groei in werksgeleenthede vol te hou:
# Die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het AfriForum gevra om aan die Amerikaanse president, Donald Trump, te verduidelik hul uitsprake oor die Onteieningswet was oordrewe. Sy het teenoor Newzroom Afrika gewaarsku handel tussen Suid-Afrika en die VSA kan geraak word. Pandor vra dat AfriForum aanspreeklik gehou moet word en versoek partye wat geraak is om beswaar te maak teen die skadelike uitlatings:
Europese Unie-lande het intussen op nuwe sanksies teen Rusland besluit terwyl die groepering die druk probeer volhou te midde van Amerikaanse samesprekings met Rusland. Die omvattende pakket sluit ʼn verbod op die invoer van Russiese aluminium in en word Maandag formeel deur die EU se ministers van Buitelandse Sake aanvaar op die derde herdenking van die Russiese inval in Oekraïne. Die EU se 16de ronde sanksies volg terwyl Trump Kiëf en sy Europese ondersteuners uitsluit om saam met Moskou die oorlog te probeer beëindig.
# Tennis: Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport sê die saak van die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is ‘n miljoen-myl verwyder van opkikkergebruik. Die Italianer het ‘n skorsing van drie maande aanvaar in ruil dat Wada sy appèlaansoek staak teen die Internasionale Tennisintegriteits-agentskap se besluit om hom nie te skors oor verlede jaar se twee positiewe opkikkertoetse nie. Wada sê hy het wetenskaplike bevestiging gekry dat dit nie ‘n geval van opsetlike opkikkergebruik was nie, en ontken enige spesiale behandeling. Sinner mag op 4 Mei terugkeer na mededingende tennis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-316-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-944-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….