Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Valentynsdagbesteding sal na verwagting vanjaar met dubbelsyfers toeneem
# Die Rooi Kruis is baie besorg oor gyselaars wat steeds deur Hamas aangehou word
# En rugby: Die Bokke begin die seisoen met ‘n belyningskamp in Kaapstad
# FNB verwag besteding op Valentynsdag sal vanjaar weer met dubbelsyfers toeneem. Dit volg op ‘n styging van 11-persent op ‘n jaargrondslag in 2024. Besteding aan sjokolade, blomme, geskenke en juweliersware het aansienlik toegeneem, met ‘n styging van 60-persent in sjokolade-aankope en 83-persent in blomme in die aanloop tot Valentynsdag. FNB se woordvoerder, Ashley Saffy, moedig verantwoordelike besteding, veilige transaksies en die gebruik van virtuele kaarte aan:
# Die Stad Tshwane het met ‘n veldtog begin om stedelike verval in sy sentrale sakekern aan te pak. Die burgemeester-subkomitee staan onder leiding van die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi. Die komitee beplan om verordeninge toe te pas, ‘n databasis van verlate geboue saam te stel en onveilige strukture as sakesentrums en behuising te herbenut. Morodi sê eienaars van eiendom moet aan streng voldoeningsmaatreëls handhaaf, want die stad streef na versnelde transformasie.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, versoek inwoners om onwettige waterverbindings te stop en waterverbruik te verminder terwyl die stad met watertekorte worstel. Morero het op ‘n nuuskonferensie planne aangekondig om boorgate te sink by skole, hospitale en in informele nedersettings. Hy beklemtoon hierdie ingrypings sal teen die einde van die boekjaar begin om die krisis te versag en volhoubare watertoegang te verseker:
# Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis, wat die uitruil van gyselaars en gevangenes tussen Israel en Hamas bemiddel, is baie besorg oor die welstand van die oorblywende aangehoudenes in Gaza. Hamas het met die uitruiling op 8 Februarie in die teenwoordigheid van omstanders drie gyselaars gedwing om hul ontvoerders te bedank. Hulle was uitgeteer, wat hulle gesinne geskok het. Die Rooi Kruis het Hamas daarna versoek om te verseker opvolgende ruiltransaksies is meer privaat en waardig. Die volgende uitruiling van gyselaars en gevangenes is môre.
# Rugby: Die Springbokke begin die seisoen op 7 Maart wanneer Rassie Erasmus en sy bestuurspan hulle eerste persoonlike strategiese byeenkoms met afrigters hou, gevolg deur ʼn driedaagse belyningskamp vir 56 plaaslike spelers . Die groep sluit 18 spelers in van 2023 se Wêreldbeker-wenspan, tien wat lid was van 2019 se Wêreldbeker-kampioenspan, en vyf wat aan 2015 se toernooi deelgeneem het. Jurenzo Julius, JF van Heerden en Reinhardt Ludwig kry hulle eerste voorsmakie van Springbokrugby.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-161-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-935-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….