Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU veroordeel Solidariteit se roekelose oproep vir Amerikaanse ingryping
# Rugby: London Irish wil weer bo uitkom na hy uit administrasie gered is
# En die Erfenishulpbronagentskap vra inligting oor die Mandela-erfenisversameling
# Die vakbond-federasie Saftu sê hy veroordeel ten sterkste die vakbond Solidariteit se roekelose oproep op die Amerikaanse president, Donald Trump, om druk op die Suid-Afrikaanse regering te verskerp oor wat hy rassewette noem. Dit volg ná Solidariteit se aanval op beleide soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende optrede. Saftu se woordvoerder, Newton Masuku, sê Solidariteit se optrede weerspieël AfriForum se onlangse misleidende veldtog teen die Onteieningswet, waarin beweer is die wet bedreig eiendomsreg en teiken wit boere:
# Die DA het ‘n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien oor die ernstige watertekorte in die oostelike voorstede van Johannesburg. Die woordvoerder, Jack Bloom sê baie inwoners worstel reeds drie weke lank met wisselvallige watertoevoer of het geen water nie. Hy kritiseer Johannesburg Water en Rand Water se swak dienslewering en gebrek aan aanspreeklikheid. Bloom eis onmiddellike verligting:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het begin om drie-duisend-359 kwekelinge by verskillende akademies op te lei. ‘n Tweede groep suksesvolle kandidate sal skriftelik in kennis gestel word wanneer hulle vir opleiding moet aanmeld. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die orige twee-duisend-186 kwekelinge sal voor die einde van die maand met hul opleiding begin:
# Rugby: Die finansieel-beleërde Engelse klub London Irish het ‘n reddingsboei gekry toe hy uit administrasie geneem is deur die sakeman Eddie Jordan. Hy is die gewese eienaar van die Formule Een-span Jordan, wat tussen 1991 en 2005 aan motorsport deelgeneem het. London Irish is in Junie 2023 uit die Premierskap gedwing weens onbetaalde salarisse en sy gewese eienaar, Mick Crossan, het hom in administrasie geplaas weens skuld van sowat 688-miljoen-rand. Jordan se hoofdoel is om die klub na die bopunt van internasionale klubrugby terug te neem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-325-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-916-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-99-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap vra besonderhede oor geskenke en toekennings wat aan oudpresident Nelson Mandela oorhandig is tydens sy ampstermyn as president van die ANC, president van Suid-Afrika en na 1999. Hierdie items is in 2017 geïdentifiseer as van buitengewoon uitsonderlike kulturele betekenis en word oorweeg vir insluiting as ‘n Spesifieke Verklaarde Erfenisversameling. Die agentskap benodig inligting oor herkoms, verkryging en voorwaardes verbonde aan die geskenke. Voorleggings moet teen Maandag ingedien word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….