Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom se uitstraling-verminderingsplan hou myne aanspreeklik vir beter gehalte steenkool
# Amptenare monitor hoë-risiko gebiede en evalueer die behoefte aan humanitêre bystand in die Wes-Kaap
# En, krieket: Die Proteas se vrouespan is gereed vir die eendagwedstryde teen Sri Lanka
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê ‘n steenkoolgehalte-program is daarop gemik om omgewingsvoldoening te verbeter. Die uitstralings-verminderingsplan sal myne aanspreeklik hou vir beter gehalte steenkool. Ramokgopa het tydens ‘n nuuskonferensie oor die energie-aksieplan gesê Eskom is aktief betrokke by myne om steenkoolproduksie van hoë gehalte te verseker, en voorkeur te gee aan gemeenskapsgesondheid. Hy het die noodsaaklikheid beklemtoon om gemeenskappe te beskerm en terselfdertyd aan die vereistes van energievoorsiening te voldoen:
# Wes-Kaapse rampbestuursamptenare monitor hoë-risiko-gebiede aktief en evalueer die behoefte aan humanitêre en ingenieurs-bystand. Vrywilligers help met skadeberamings met 28 voorvalle van strukturele skade in gebiede soos Delft, Mitchells Plain, en Khayelitsha. ‘n Woordvoerder, Charlotte Powell, het bevestig pogings duur voort om ontwortelde en beskadigde bome te verwyder, dienste te herstel en paaie oop te stel:
Die regering sê intussen die Nasionale Rampbestuursentrum en provinsale en plaaslike rampbestuurspanne oral in die land is op ‘n hoë gereedsheidsgrondslag en help gemeenskappe wat deur swaar reën geraak is. Gemeenskappe in vloedgeteisterde gebiede word gewaarsku om versigtig te wees terwyl oorstromings voortduur. Suid-Afrikaners moet toesien dat kinders veilig is en nie oorstroomde paaie, brûe en riviere oorsteek nie. Gemeenskappe wat deur die vloede geraak is, word gevra om op hulle hoede te wees en na spesiale waarskuwings op radio, TV en betroubare sosiale mediabronne of deur plaaslike owerhede te luister.
# Krieket: Die eerste van drie eendag-internasionale wedstryde tussen die Proteas se vrouespan en Sri lanka word vandag op Buffalopark in Oos-Londen beslis. Na hulle nederlaag van twee-een teen Sri Lanka in die T20-reeks is die tuisspan vasberade om terug te veg. Die Proteas se kaptein, Laura Wolvaardt, meen die span is gereed om hulle fokus na die langer formaat van die spel te verskuif:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-517-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse sanger Michael Ferguson het Suid-Afrika trots gemaak op Idols Austria al het hy nie die eindronde gehaal nie. Die oud-leerder van Pretoria Boys High bevind hom op wêreldverhoë en hy sê dit maak hom trots om sy talent oorsee ten toon te stel. Uitdagings met die pandemie het hom na Wene gelei waar hy groot aanklank by plaaslike gehore gevind het met streektreffers soos Better Together. Sy komende album beloof ‘n samevloeiing van Suid-Afirkaanse en Oostenrykse invloede wat sy liefde vir albei lande tentoonstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….