Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# United Africans Transformation sê die regering moet volhou om Suid-Afrika se soewereiniteit te verdedig
# Wetenskaplikes is verstom oor die sterkste aardbewing nog op Santorini
# En rugby: Druk neem toe op Warren Gatland na Wallis se 14de agtereenvolgende nederlaag
# Die organisasie United Africans Transformation sê die regering moet volhou om Suid-Afrika se soewereiniteit te verdedig. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het verlede week ʼn uitvoerende bevel onderteken wat hulp aan Suid-Afrika opskort weens die land se grondhervormingsbeleid. UAT se woordvoerder, Mighty Mabule, sê hulle veroordeel wat hulle beskryf as Trump se ongegronde en imperialistiese optrede wat inmeng met Suid-Afrika se interne sake onder die dekmantel van kommer oor menseregte:
Die president van die Europese Raad, Antonio Costa, het intussen sy volle steun aan Suid-Afrika se G20-leierskap beloof nadat Amerika besluit het om nie die beraad by te woon nie. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het kommer oor Suid-Afrika se beleide uitgespreek. Costa het tydens ‘n oproep met president Cyril Ramaphosa die voortgesette versterking van bande en multilaterale samewerking uitgelig voor die Suid-Afrika-Europese Unie-beraad op 13 Maart. Hy sê hulle deel waardes soos demokrasie, menseregte, waardigheid en gelykheid, en hoop die beraad sal hul sterk bilaterale vennootskap uitbrei.
# Die DA sê planne om die Rooiwal- en die Pretoria-Wes-kragstasie in Tshwane te heraktiveer, is opsygeskuif sedert die ANC-geleide koalisie die metro oorgeneem het. Die party glo sy plan om die stasies aan private beleggers te verhuur, kon afhanklikheid van Eskom verminder en beurtkrag verlig het. DA-woordvoerder, Cilliers Brink, versoek die munisipaliteit om nie in sy komende begroting befondsing aan die projek te staak nie en waarsku verdere vertragings kan die stad se energiesekerheid beïnvloed:
# ’n Aardbewing van 5,3 het die Griekse eiland Santorini getref, die sterkste nog van die tallose skuddings wat duisende genoop het om te vlug. Dit is twee uur later gevolg deur nog ‘n skudding van 5,0. Volgens die Universiteit van Athene is bykans 13-duisend skuddings tussen 26 Januarie en 8 Februarie aangeteken. Die skuddings verstom wetenskaplikes wat sê die streek het nog nie seismiese bedrywighede op hierdie skaal ervaar vandat opnames in 1964 aangeteken word nie. Santorini lê bo-op ‘n dormante vulkaan wat laas in 1950 uitgebars het.
# Rugby: Dit wil voorkom asof Warren Gatland se uurglas leegloop as hoofafrigter van Wallis. Die Nieu-Seelander gaan volgens berigte vervang word nadat sy manne die naweek in ‘n Sesnasieswedstryd teen Italië in Rome hulle 14de agtereenvolgende nederlaag gely het. Volgens Wales Online bespreek die Walliese Rugby-unie môre die situasie en mag besluit om Gatland opsy te skuif en ‘n tussentydse afrigter vir die res van die Sesnasies aan te wys. Sy kontrak duur tot na 2027 se Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-83-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-905-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….