Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa woon ‘n gesamentlike beraad in Tanzanië by oor die krisis in die DRK
# Rugby: Albei die Bulle se medekapteins is vir ‘n lang tyd buite aksie
# En, Kaapstad is benoem as die Britte se gunsteling buitelandse wegbreekstad in die wêreld
# President Cyril Ramaphosa sal Dar-es-Salaam in Tanzanië Saterdag besoek om die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Oos-Afrikaanse Gemeenskap se staatshoofdeberaad by te woon waarop die veiligheidskrisis in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo bespreek sal word. Dit volg ná onlangse buitengewone berade waar aangedring is op gekoördineerde pogings, insluitend wapenstilstands-ooreenkomste en humanitêre hulp. Woordvoerder Vincent Magwenya sê senior amptenare en ministers van Buitelandse Sake sal vooraf vergader, met die klem op dialoog en ondersteuning vir vredespogings soos met die Luanda-proses:
Die Presidensie sê ook die tema van môre se staatsrede is “‘n Nasie wat vir almal werk”. Magwenya sê Ramaphosa se toespraak is in die lig van Suid-Afrika se herdenking van 30 jaar van demokrasie en die presidentskap van die G20. Hy sê dit sal fokus op die bevordering van nasionale eenheid en samewerking om vooruitgang aan te vuur om sleuteluitdagings aan te pak:
# Profmed het ‘n nuwe platform, FinDR, geloods wat poog om die gaping te oorbrug tussen gekwalifiseerde jong dokters wat werk soek en mediese inrigtings wat mediese gegradueerdes benodig. Daar is meer as ‘n duisend dokters wat desperaat na werksgeleenthede soek. Profmed se uitvoerende hoof, Craig Comrie, sê die platform gee nie net aandag aan die indiensnemingsgaping onder dokters nie, maar verlig ook die druk op die land se gesondheidsdiens. Hulle bied ook gratis mediese fonds-lidmaatskap van ses maande aan vir die eerste 100 persone wat aansluit.
# Rugby: Die medekapteins van die Bulle asook die losskakel, Johan Goosen, is al drie vir ‘n onbepaalde tyd buite aksie met beserings. Elrigh Louw moet weer aan sy beseerde knie geopereer word voor sy rehabilitasie kan begin, terwyl Ruan Nortjé ‘n knieligament beseer het en eers oor agt tot tien weke sal terugkeer. Goosen het ook ʼn knieoperasie ondergaan en behoort ook eers in April reg te wees vir die Uitdaagbeker-wedstryd teen Bayonne. Die Bulle speel Saterdag in Kaapstad teen die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-663-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-870-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is aangewys as Britse reisigers se beste langafstand-wegbreekstad in die wêreld. Meer as een-duisend-500 Britse reisigers het in ʼn meningspeiling in Which? hul belewenisse die afgelope jaar in stede buite Europa beoordeel. Byna tweeduisend-500 bestemmings is volgens sewe maatstawwe geklassifiseer, wat kos en drank, verblyf, kultuur- en toeriste-aantreklikhede, en waarde vir geld insluit. Kaapstad Toerisme sê die metro se onverbeterlike verskeidenheid avontuur, kultuur en bekostigbaarheid het alle ander stede soos Tokio, Sydney, Dubai en Los Angeles oortref.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….