Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se dogter ontken betrokkenheid by die onrus van Julie 2021
# AfriForum onthul ‘n driepuntplan om die Onteieningswet te beveg
# En rugby: Romain Ntamack is terug in Frankryk se span vir die eerste keer in 17 maande
# Oudpresident Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, ontken enige betrokkenheid by die aanhitsing van die onrus in Julie 2021. Sy het in die Landdroshof in Durban, KwaZulu-Natal, aangevoer die staat se saak is sonder meriete en hou vol daar is geen bewyse wat haar met die geweld verbind nie. Haar regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het aan die hof gesê die beskuldigde is van plan om onskuldig te pleit:
# AfriForum het ’n driepuntplan bekendgemaak om die Onteieningswet te betwis en voer aan dit bedreig eiendomsreg. Dit sluit in om te voorkom die wet word bekragtig, voort te gaan met regstappe en die bekendstelling van ‘n internasionale bewusmakingsveldtog. AfriForum versoek die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, om nie die wet te mede-onderteken nie en onderneem om die grondwetlikheid in die hof te betwis. Woordvoerder Ernst van Zyl sê die organisasie gaan ook internasionale belanghebbendes betrek:
# Werksaamhede by die Groblersbrug-grenspos met Botswana in Limpopo hervat vandag. Bedrywighede moes tydelik gestaak word nadat swaar reën aansienlike skade aan infrastruktuur veroorsaak het. Die Grensbestuursowerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê noodsaaklike herstelwerk is afgehandel en die grenspos het sy werksaamhede hervat om oorgrensbeweging en handel tussen Suid-Afrika en Botswana te hanteer:
# Rugby: Die Franse losskakel Romain Ntamack keer die eerste keer in 17 maande terug. Hy is ingesluit in die span vir môreaand se Sesnasies-wedstryd teen Wallis in Parys. Die 25-jarige Ntamack het ‘n ernstige kniebesering opgedoen tydens ‘n voorbereidingswedstryd vir 2023 se Wêreldbekertoernooi, en het laat verlede jaar weer sy kuit beseer. Hy en sy spanmaat by Toulouse, Antoine Dupoint, sal die skakelpaar wees. Skotland speel Saterdag in Edinburgh teen Italië terwyl Ierland en England in Dublin teen mekaar te staan kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-167-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-777-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Netflix grawe diep vir die terugkeer van Little House on the Prairie. Die geliefde program is losweg gegrond op die topverkoper-boekereeks deur Laura Ingalls Wilder waarvan meer as 73-miljoen kopieë verkoop is. Dit is eers omskep in ‘n gewilde reeks vir NBC waar dit mense tussen 1974 en ’83 nege seisoene lank vermaak het. Jinny Howe van Netflix sê hulle is opgewonde om die boek se tydlose temas van hoop en optimisme te deel met ‘n nuwe vertelling van die ikoniese verhaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….