Nuus 14:00
BULLETIN 24 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie gelas Matlala moet sy getuienis voortsit
# Pous Leo bepleit internasionale optrede om die Ebola-uitbreking in die DRK te beveg
# En rugby: Geringe veranderings aan die Bokspan vir die tweede toets in Kaapstad
# Die Madlanga-kommissie het Vusimuzi “Cat” Matlala se versoek geweier om sy getuienis tot môre te laat oorstaan. Hy het voorheen geweier om vrae te beantwoord oor die polisie se Medicare24-tender van 228-miljoen-rand. Sy regspan het probleme aangevoer om toegang tot hom te verkry in die Kgosi Mampuru-gevangenis. Advokaat Fatima Missi het die laat indiening van Matlala se ongetekende beëdigde verklaring verduidelik, maar voorsitter Mbuyiseli Madlanga het gelas die getuienis moet voortgaan:
# Die United Progressive People Alliance sê hy gaan 70 wykskandidate in Tshwane stel in November se plaaslike regerings-verkiesing. Die party het ‘n sespuntplan bekendgestel om die metro te herbou voor die verkiesing. Dit gee onder meer aandag aan ingewortelde en finansiële uitdagings terwyl die waardigheid van gemeenskappe terselfdertyd herstel word. Die alliansie sê hy verskerp sy veldtog om aan inwoners ‘n geloofwaardige alternatief te bied wat fokus op bevoegde bestuur, betroubare basiese dienste, skoon administrasie, veiligheid en ekonomiese geleenthede.
# Die vakbond GIWUSA sê die vennootskap tussen die regering en die sakewêreld bied geen werklike hoop aan die meer as 13-miljoen werklose Suid-Afrikaners nie. President Cyril Ramaphosa het verlede week fase 3 van stapel gestuur, wat daarop gemik is om hervormings te bevorder, beleggings te verhoog en werksgeleenthede te skep. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê die neoliberale beleid waartoe die regering hom verbind het, is ‘n volslae mislukking:
Nuus uit die buiteland:
# Pous Leo vra internasionale hulp om die uitwerking van ‘n Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo te beperk, wat tot dusver meer as twee-duisend-500 lewens geëis het. Amptenare van die Verenigde Nasies sê die uitbreking versprei vinnig oor ‘n groot gebied in die land. Die pous het op St Petrusplein aan pelgrims gesê hy bid dikwels vir die DRK. Die land se 17de Ebola-epidemie het laat verlede maand die grootste uitbreking in die geskiedenis geword.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het geringe veranderings aan die span gemaak vir Saterdag se tweede toets teen die All Blacks in Kaapstad nadat hulle die eerste toets teen die aartsvyand op Ellispark 33-16 verloor het. Siya Kolisi sal terugkeer as hy fiks is, andersins behou Paul de Villiers die nommer-ses trui. Handré Pollard en Cobus Reinach begin as skakelpaar, met Sacha Feinberg-Mngomezulu op die bank. Ethan Hooker vervang die beseerde vleuel Cheslin Kolbe en Pieter-Steph du Toit is kaptein in sy 100ste toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-845-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-643-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….