Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF veroordeel die uitstel van die parlementêre vergadering om soldate se ontplooiing in die DRK te bespreek
# Rugby: Andy Farrell versterk die Leeus se personeelkorps voor die toer in Australië
# En, Ramaphosa wens China geluk met die Chinese Nuwejaar
# Die EFF veroordeel die uitstel van ‘n vergadering van die Parlement se portefeuljekomitee oor Verdediging en Militêre Veterane wat vir vandag beplan is. Die vergadering sou verslae ontvang oor die soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi is. Die EFF sê 13 soldate het reeds die afgelope paar dae gesterf en terwyl die situasie aanhoudend vererger in die ooste van die land, bestaan die werklike gevaar dat meer jong soldate kan sterf.
# Die landbou-organisasie TLU SA vra president Cyril Ramaphosa om praktiese oplossings voorop te stel wanneer hy volgende Donderdag in Kaapstad sy staatsrede lewer. Woordvoerder Bennie van Zyl sê Ramaphosa moet die moed hê om as ‘n ware staatsman op te tree en daadwerklik aandag gee aan die kwessies wat die land lamlê. Hy sê Suid-Afrika benodig dringende ingryping, nie vir politiek nie, maar vir vooruitgang:
# Die Amerikaanse Federale Reserweraad gaan na drie agtereenvolgende rentekoers-verlagings na verwagting vandag agteroor sit en te kenne gee dat hulle die pas markeer totdat die data verander. Dit is ondanks druk van president Donald Trump om dit te verlaag. Ontleders verwag die Fed sal hierdie week niks doen nie, terwyl hy wag om te sien watter beleid die nuwe Trump-administrasie afkondig en hoe dit die Amerikaanse ekonomie mag beïnvloed. Die Amerikaanse sentrale bank het ‘n dubbele mandaat van die Kongres om inflasie sowel as werkloosheid te takel.
# Rugby: Hoofafrigter Andy Farrell het nog twee personeellede ingebring om die Britse en Ierse Leeus te versterk voor hulle toer in Australië. Die gewese Wallabie-toetsspeler David Nucifora is aangestel as hoofbestuurder vir prestasie, en Ierland se hoof van atletiese prestasie, Aled Walters, sal dieselfde rol by die Leeus vertolk. Die groep speel in Dublin teen Argentinië voor hulle vertrek na Australië vir nege wedstryde, insluitend drie toetse teen die Wallabies, van 28 Junie tot 2 Augustus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-422-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-761-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: President Ramaphosa het die mense en regering van China gelukgewens met die begin van die Chinese Nuwejaar, wat ook die Maan-nuwejaar genoem word. Die feestelikhede wat die Jaar van die Slang inlui, duur 15 dae en eindig met die Lentefees-viering. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president is vol vertroue dat die Jaar van die Slang China se reputasie gestand sal doen as ’n mag om mee rekening te hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….