Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge gaan die Onteieningswet in die hof betwis
# Weerontwrigtings beïnvloed vlugte op George se lughawe
# En, krieket: Die Windies wen die eerste toets in Pakistan in 34 jaar
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge sê hy is besig om hofstukke op te stel om die Onteieningswet te betwis. Woordvoerder Gabriel Crouse sê die wet, wat onlangs onderteken is, maak voorsiening vir onteiening sonder vergoeding in ‘n onbepaalde reeks omstandighede. Hy sê die instituut is jare reeds ‘n vegter vir die eiendomsreg van alle Suid-Afrikaners en die openbare mening is sterk gekant teen die wegkalwe van hierdie regte:
# Lugverkeer- en Navigasiedienste waarsku onderbrekings van vlugte kan vandag op George se lughawe in die Wes-Kaap verwag word weens ongunstige weer. Die hoof van korporatiewe sake, Mphilo Dlamini, sê sterk wind maak toestande onveilig vir bedrywighede. Lugverkeer- en navigasiedienste monitor die situasie en sal dit vir lugrederye en belanghebbendes bywerk. Passasiers word aangeraai om op die hoogte te bly van moontlike vertragings en kansellasies.
Die DA vra intussen ‘n parlementêre verhoor oor toenemende onderbrekings aan lughawedienste. Die party se woordvoerder oor Vervoer, Chris Hunsinger, sê die onlangse brandstofpompe wat gebreek het op die Kaapstadse Internasionale Lughawe en dreigende brandstoftekorte op OR Tambo lig kritieke wanbestuur uit. Hy moedig die minister van Vervoer, Barbara Creecy, en die Lughawensmaatskappy aan om ‘n duidelike herstelplan voor te lê en waarsku voortgesette onbestendigheid bedreig die toerismesektor, beleggersvertroue en Suid-Afrika se ekonomie:
# Swaar artillerievuur is in die middel van die beleërde Kongolese stad, Goma, gehoor, ure nadat Rwandese soldate en rebelle van M23 die oostelike streekshoofstad binnegeval het. Joernaliste van AFP berig oor verskeie hewige ontploffings en sê chaos het in die stad uitgebreek, wat al dae lank onder beleg is. ’n Massa-ontsnapping het uit die tronk in Goma plaasgevind. Die tronk huisves sowat drie-duisend gevangenes en is na die ontsnapping aan die brand gesteek. Vlugtende gevangenes is in die omliggende strate gesien.
# Krieket: Die Windies het die eerste keer in 34 jaar ‘n toets in Pakistan gewen toe hulle die tuisspan met 120 lopies geklop het in die tweede wedstryd in Multan. Die besoekers is in hulle eerste beurt vir net 163 lopies uitgeknikker maar het die gashere daarna vir 154 uitgehaal. Die Windies het in hulle tweede beurt 244 aangeteken, wat aan Pakistan ‘n wenteiken van 254 gestel het. Die draaibouler Jomel Warrican het toe vyf paaltjies laat kantel. Die reeks het gelykop geëindig nadat Pakistan die eerste toets gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-938-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-763-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….