Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ATM vra grond moet aan regmatige eienaars teruggegee word na die Onteieningswet bekragtig is
# Tshwane stel sleutel-stappe in na die Ouditeur-generaal se bevindings
# En tennis: Novak Djokovic skimp dit was dalk sy laaste Australiese Ope
# Die leier van die African Transformation Movement, Vuyo Zungula, veroordeel die ondertekening van die Wetsontwerp op Onteiening en dring daarop aan dat grond aan regmatige eienaars teruggegee word. Die wet gee ‘n uiteensetting van die onteiening van staatsgrond in die openbare belang na jare se raadpleging en beraadslaging. Zungula hou vol dit maak ‘n bespotting van openbare deelname en versuim om geskiedkundige ongeregtighede teen te werk:
# Die Stad Tshwane gee aandag aan kwessies wat geopper is in die verslag van die Ouditeur-Generaal vir 2023/24, wat onreëlmatige uitgawes van 2,3-miljard-rand en swak finansiële beheer uitlig. Die stad het die tweede jaar ʼn gekwalifiseerde ouditmening ontvang en sê hy gaan met ‘n omvattende regstellende aksieplan begin. Maatreëls sluit in die verbetering van batebestuur, die vaartbelyning van krediteure en debiteure en die verbetering van nakoming van die verkrygingsproses. Die stad verseker inwoners hy is verbind tot die herstel van aanspreeklikheid en bestuur.
# Die DA sê misdadigers mag nie toegelaat word om Suid-Afrika steeds af te pers nie en daar moet standpunt ingeneem word teen intimidasie. ʼn Getuie in ʼn strafsaak is hierdie week buite die Landdroshof in Lenasia in die suide van Johannesburg doodgeskiet. Die DA se woordvoerder, Glynnis Breytenbach, sê ʼn getuie is ook buite die Wynbergse Landdroshof in Kaapstad doodgeskiet:
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, het bevestig hy het ‘n spier in sy linkerbobeen geskeur. Dit volg nadat hy onttrek het aan sy halfeindstryd teen Alexander Zverev op die Australiese Ope. Die Serwiër, wat probeer het om sy rekord elfde titel in Melbourne in te palm, het tou opgegooi nadat hy die eerste stel 7-6 teen die Duitser verloor het. Djokovic sê dit is moontlik dat dit sy laaste Australiese Ope was:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-245-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-773-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die president van Microsoft Africa, Lillian Barnard, het 2025 se Globale Kunsmatige Intelligensie-toer aangekondig in Suid-Afrika, Nigerië, Egipte en Kenia. Die toer is daarop gemik om Afrika se digitale transformasie te bevorder deur KI-innovering aan sakeleiers, inligtingstegnologie-beroepslui en ontwikkelaars ten toon te stel. Barnard sê Microsoft fokus op die bemagtiging van sake-ondernemings en beginners met die gebruik van KI vir volhoubare groei. Die onderneming het sy toewyding uitgespreek om kuberveiligheid voorop te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….