Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson verwelkom PwC se ondersoek na ‘n suurstofaanleg-tender
# Panama kla by die Verenigde Nasies oor Trump se dreigement om op die Panamakanaal beslag te lê
# En, krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, ondersteun nie die boikot van ‘n wedstryd teen Afganistan nie
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, onderskryf die aanstelling van PwC om beweerde onreëlmatighede te ondersoek in die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se suurstofaanleg-tender van 800-miljoen-rand. Daar bestaan kommer oor die toekenning van kontrakte aan twee maatskappye wat nie by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte geregistreer is nie. Die ondersoek van agt weke sal prosedurele nakoming, finansiële verliese en die aanspreeklikheid van amptenare bepaal. Macpherson sê die doel is om bestuur en openbare vertroue te versterk:
# Suid-Afrika se jaarlikse verbruikersinflasie het in Desember gestyg tot drie-persent vanaf 2,9-persent in November verlede jaar. Sleutelbydraers tot die styging sluit in behuising en nutsdienste, diverse goedere en dienste, voedsel en nie-alkoholiese drankies. Patrick Kelly van Statistieke Suid-Afrika sê die gemiddelde inflasie vir verlede jaar was 4,4-persent, laer as die ses-persent wat in 2023 aangeteken is:
# Die Outomobiel-Assosiasie versoek die regering om dringend in infrastruktuur vir beweeglikheid te belê om stygende padsterftes in Suid-Afrika te verminder. Dit volg nadat een-duisend-502 sterftes gedurende die 2024/’25-feestyd aangemeld is. Die AA beklemtoon verswakkende infrastruktuur, onpadwaardige voertuie en risiko’s met voetgangers is sleutelkwessies. Woordvoerder Eleanor Mavimbela beklemtoon beslissende optrede is noodsaaklik om globale padveiligheidsdoelwitte te bereik en lewens te red:
# Panama kla by die Verenigde Nasies oor die dreigement van die Amerikaanse president, Donald Trump, om beslag te lê op die Panamakanaal. Die land het met ‘n oudit van die operateur van die kanaal begin. Trump sê China meng by die kanaal in. Panama verwys in ‘n brief aan die sekretaris-generaal, António Guterres, na die VN-handves wat enige lid verbied om die dreigement of gebruik van geweld te gebruik teen die gebieds-integriteit of politieke onafhanklikheid van ‘n ander land. Panama versoek Guterres om die saak na die VN se Veiligheidsraad te verwys.
# Krieket: Kaptein Jos Buttler sê Engeland se wedstryd teen Afganistan in die Kampioenetrofee moet voortgaan na oproepe om ‘n boikot weens die Taliban-regime se aanslag op vroueregte. ʼn Groep van meer as 160 Britse politici het die Engelse en Walliese Krieketraad versoek Engeland moet nie die wedstryd op 26 Februarie in Lahore speel nie. Die Taliban het vir alle praktiese doeleindes ʼn verbod geplaas op die deelname van vroue in sport asook die algemene openbare lewe sedert hulle in 2021 beheer oorgeneem het
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-161-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-759-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….