Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF vra die internasionale gemeenskap om Israel aanspreeklik te hou vir misdade in Gaza
# Motorsport: Lategan en Cummings eindig tweede in die Dakar-tydren
# En sterre soos Billie Eilish, Stevie Nicks en Sting lei die LA FireAid-bystandkonsert
# Die EFF sê hy respekteer die Palestynse mense en Hamas se veerkragtigheid en doen ‘n beroep op die internasionale gemeenskap om Israel aanspreeklik te hou vir sy misdade teen die mensdom in Gaza. Hamas het ‘n konsep-ooreenkoms oor ‘n skietstilstand in die Gazastrook en die vrylating van talle gyselaars aanvaar. Die adjunkpresident van die EFF, Godrich Gardee, sê geregtigheid sal eers geskied as die besetting beëindig word en Palestyne in vrede en waardigheid in hul tuisland kan lewe:
Twee motors is intussen in Sydney aan die brand gesteek en die voormalige huis van ‘n Joodse gemeenskapsleier, Alex Ryvchin, opsetlik beskadig in die jongste antisemitiese voorval in Australië. Owerhede het beloof om die oortreders op te spoor. Ryvchin het die regering herhaaldelik versoek om aandag te skenk aan aanvalle op Joodse gemeenskapslede, wat opgevlam het sedert die begin van Israel se oorlog teen Hamas in Gaza. ‘n Vlaag antisemitiese aanvalle in Sydney en Melbourne het die regering aangespoor om ‘n spesiale taakspan toe te wys om die probleem te bekamp.
# Die DA veroordeel die besluit om die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Inspektoraat-afdeling te ontbind. Die Inspektoraat poog om aanspreeklikheid, deursigtigheid en toesig in polisiegeledere te verseker en speel ‘n sleutelrol om ondoeltreffendheid en interne wangedrag te bekamp. Lisa Schickerling van die DA glo hierdie stap sal kritieke pogings tot hervorming in die polisie bedreig. Sy eis ‘n verduideliking vir die besluit:
# Motorsport: Yazeed al-Rajhi het geskiedenis gemaak deur die eerste bestuurder van die gasheerland, Saoedi-Arabië, te word wat die Dakar-tydren wen. Die Overdrive-bestuurder het sy oornag-voorsprong behou om die Suid-Afrikaners, Henk Lategan en Brett Cummings, in ‘n Toyota met drie-minute-57-sekondes te klop, met Mattias Ekström van Swede derde in sy Ford. Nog ʼn Suid-Afrikaanse span, Brian Baragwanath en Leonard Cremer, was tiende. In die motorfietsafdeling was die Suid-Afrikaner, Michael Docherty, 14de op sy KTM.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-18-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-703-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte: Van die grootste musieksterre soos Billie Eilish, Katy Perry en Stevie Nicks lei later die maand ‘n bystandkonsert genaamd FireAid by die Inuit Dome en Kia Forum in Los Angeles. Die konsert is ten bate van diegene wat getref is deur die dodelike brande in die Amerikaanse stad. Onder die ander kunstenaars wat optree is Joni Mitchell, Sting, Lady Gaga en Earth, Wind and Fire. Die organiseerders sê bydraes tot FireAid sal versprei word onder die Annenberg-stigting vir korttermynbystandpogings en langtermyn-planne om toekomstige brandrampe te voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….