Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Versoeke aan die Departement van Gesondheid om alles moontlik te doen om werk vir jong dokters te verseker
# Trump se benoeming vir Buitelandse Sake sê die Internasionale Strafhof moet die lasbrief vir Netanyahu laat vaar
# En, sokker: Carlo Ancelotti van Real Madrid wil hê sy span moet hom regruk na die Barcelona-nederlaag
# Die GOOD-party versoek die Departement van Gesondheid om alle moontlikhede te ondersoek en met jeugstrukture saam te werk om te verseker jong dokters word in diens geneem voor die samelewing verder daaronder ly. Woordvoerder Kaden Arguile sê die departement het verlede jaar opslae gemaak omdat honderde opgeleide dokters werkloos was ondanks ‘n tekort aan mediese praktisyns in die land. Hy sê dit wil nou voorkom asof die geskiedenis homself herhaal met ongeveer eenduisend-800 opgeleide dokters wat nog geplaas moet word:
# ‘n Rekordgetal van 337-duisend-158 matrieks het met universiteitstoelating geslaag, maar daar is slegs plek vir 202-duisend eerstejaars in Suid-Afrika se 26 openbare universiteite. News24 berig negentien universiteite het meer as 4,2-miljoen aansoeke aangeteken vir 131-duisend-987 plekke. Die Universiteit van Johannesburg byvoorbeeld, het 118-duisend-629 aansoeke ontvang vir slegs 772 plekke in die BA-graad vir Onderwys. Die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, het studente aangemoedig om alternatiewe te oorweeg soos TVET-kolleges, wat 502-duisend-954 plekke aanbied om die tekort aan te spreek en in die land se vaardigheidsbehoeftes te voorsien.
# Amerika se verkose president Donald Trump se keuse vir minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, doen ‘n beroep op die Internasionale Strafhof om die lasbrief teen Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, te laat vaar. Hy het Woensdag tydens sy bevestigingsverhoor senators se vrae beantwoord. Die Strafhof het in November verlede jaar gesê daar is redelike gronde dat Netanyahu en twee ander strafregtelike verantwoordelikheid dra vir vermeende oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in die Israel-Hamas-konflik. Rubio sê die Strafhof het sy globale geloofwaardigheid ernstig geknou:
# Sokker: Die afrigter van Real Madrid, Carlo Ancelotti, verwag ʼn vinnige ommekeer nadat sy span die handdoek ingegooi het teen aartsvyande, Barcelona, in die eindstryd van die Spaanse Super-beker. Die Katalane het Sondag die beker in Saoedi-Arabië omhoog gehou na ʼn oortuigende oorwinning van 5-2. Madrid se Italiaanse afrigter verwelkom vandag se kragmeting in die laaste 16 teen Celta Vigo om die Copa del Rey as ʼn geleentheid om hulleself reg te ruk. Volgens Ancelotti het sy span “ʼn sakvol foute” teen Barcelona gemaak maar hulle werk sedertdien aan oplossings voor Celta se besoek aan die Santiago Bernabeu.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-172-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-707-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-86-sent per vat.
# Ten slotte: Die American Museum of Natural History het ses vertonings geskenk vir die heropening van die Johannesburg-planetarium. Die planetarium, wat onlangs opgeknap tot wêreldklas-standaarde opgeknap is, heropen sy deure in Februarie met ‘n nuwe era vir sterrekunde en wetenskap. Die museum se bydrae is daarop gemik om die planetarium se opvoedkundige aanbiedinge te verbeter en belangstelling in sterrekunde aan te wakker. Die vennootskap is ‘n mylpaal in die bevordering van globale samewerking in wetenskaponderrig en die vertonings sal studente, navorsers en die publiek motiveer en betrek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….