Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê Ramaphosa se bywoning van die inhuldiging in Mosambiek is ‘n bedreiging vir demokrasie
# Tennis: Alcaraz en Djokovic oortuig tiener Joao Fonseca kan een van die bestes wees
# En, Kaapstad boaan die jaarlikse lys van Beste Stede ter Wêreld
# Build One South Africa sê president Cyril Ramaphosa se bywoning van die inhuldiging van Mosambiek se verkose president, Daniel Chapo dra ‘n gevaarlike boodskap oor rakende Suid-Afrika se standpunt oor demokrasie. Die party voer aan die Mosambiekse verkiesing is geteister deur geweld en ongerymdhede, insluitend sluipmoordpogings op opposisieleiers, wat hul geloofwaardigheid ondermyn. BOSA se waarnemende woordvoerder, Roger Solomons waarsku hierdie optrede hou die gevaar in om die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek te destabiliseer en demokratiese waardes te verbrokkel:
# Die Portefeuljekomitee oor Infrastruktuurontwikkeling van die Gautengse Provinsiale Wetgewer dring aan op die bespoediging van skoolprojekte om oorbevolking in skole aan te spreek. Met die akademiese jaar vir 2025 wat vandag begin, is baie skole nog nie voltooi nie, wat verligting vir die groeiende getal leerders vertraag. Die Komitee eis verbeterde projekbestuur, aanspreeklikheid vir vertragings en optrede teen diegene wat verantwoordelik is vir ondoeltreffendheid, korrupsie of nalatigheid. Voorsitter, Bones Modise, sê dit sal verseker alle leerders het toegang tot ‘n veilige, positiewe leeromgewing.
# Altesaam 49 mans is in Indië aangekeer vir die jare lange, herhaaldelike seksuele mishandeling van ‘n tiener. Die jong slagoffer is ‘n Dalit, die laagste vlak in die rigiede Hindoe-kastestelsel, wat buitensporig geteiken word vir seksuele geweld in ‘n land met hoë vlakke van misdaad teen vroue. Die onbekende 18-jarige vrou sê sowat 60 mans het haar in die suidelike tuisstaat, Kerala, seksueel misbruik sedert sy 13 was. Die beskuldigdes is aan die vrou bekend en sluit bure en familievriende in.
# Tennis: Carlos Alcaraz is oortuig die leeutemmer-tiener, Joao Fonseca, sal “sommer gou” een van die bestes wees terwyl Novak Djokovic sê hy sien in die Brasiliaan baie van homself toe hy jonger was. Die vreeslose 18-jarige kwalifiseerder het gister met sy buiging in ʼn Grand Slam-toernooi die negende gekeurde, Andrey Rublev, in skoon stelle oorrompel. Fonseca het verlede maand die tweede jongste kampioen van die NextGen ATP-toernooi geword sedert Jannik Sinner, die huidige wêreld nommer een, dit vyf jaar gelede vermag het. Die viermalige Grand Slam-toernooiwenner, Alcaraz, is self net 21 en was heel beïndruk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-885-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-685-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-60-sent per vat.
# Ten slotte: Time Out het bekendgemaak Kaapstad is boaan die jaarlikse lys van die beste stede ter wêreld. Time Out is ‘n wêreldwye handelsmerk wat deur middel van Time Out Media en Time Out Market mense inspireer en bemagtig om die beste van ‘n stad te ervaar. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kaapstad is in elke opsig hoog aangeslaan vir sy skoonheid, algemene gemoedelikheid en kos-verskeidenheid. Kaapstad het een plek beter gevaar sedert hy verlede jaar in die tweede plek was:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….