Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kleinhandelreuse aangesê om regverdig te wees met die pryse van vars produkte
# Suid-Afrika se paspoort klim vyf plekke op die 2025 Henley Paspoort-indeks
# En, tennis: ‘n Omgekrapte Daniil Medvedev oorleef vyf stelle nadat hy die netkamera in ‘n woedebui breek
# Die Mededingingskommissie het groot kleinhandelaars, insluitend Shoprite, Woolworths, Pick n Pay, Spar en Food Lover’s Market, aangesê om die prys van vars produkte per 100 gram aan te dui. Hierdie verandering sal verbruikers in staat stel om makliker pryse te vergelyk. Hierdie besluit volg op ‘n ondersoek na die varsproduktemark, wat bevind het bestaande praktyke om pryse te bepaal verdraai mededinging. Die ondersoek het ook ondoeltreffendheid in die mark vir vars produkte ontbloot, insluitend monopolieë en struikelblokke vir kleinboere. Kleinhandelaars moet die veranderinge binne 12 maande aanbring.
# Cosatu sê hy is bekommerd oor die groot aantal werkgewers wat met werkers se finansiële toekoms speel en steeds nie hul pensioenfondsbydraes oorbetaal nie. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor sê die aantal werkgewers wat versuim om werknemers se pensioenfondsbydraes te betaal, het vanaf vier-duisend tot sewe-duisend-700 verdubbel. Zanele Sabela van Cosatu, sê hulle is daartoe verbind om te verseker hierdie gewetenlose werkgewers vereffen die agterstallige skuld en voldoen in die toekoms aan die vereistes:
# Professor Kobus Maree van die Universiteit van Pretoria sê hoewel universiteitsopleiding een van vele moontlikhede is vir ‘n suksesvolle loopbaan, moet ouers en voogde hulle nie blind staar teen ‘n bepaalde tersiêre instelling of onderwys en opleiding na graad 12 nie. Hy sê hoewel navorsing toon diegene met grade kry makliker werk en verdien hoër salarisse, moet ouers en voogde nie die waarde van nie-universiteitstudie onderskat nie. Maree sê beoordeel elke dissipline en tersiêre opleidingsinstelling op meriete:
# Die Suid-Afrikaanse paspoort het vyf plekke geklim op die 2025 Henley Paspoort-indeks en vir die eerste keer sedert 2014 teruggekeer na die top 50. Dit weerspieël ‘n verbetering in mobiliteit ten spyte van visumvrye toegang tot Ierland wat verloor is en die algehele toeganklike bestemmings verminder het. Die Henley-paspoortindeks, gebaseer op 19 jaar van Internasionale Lugvervoerowerheid-data, evalueer maandeliks 199 paspoorte en 227 bestemmings. Lande van die Europese Unie het terugslae ondervind, maar Singapoer en Japan is boaan die indeks met visumvrye toegang tot onderskeidelik 195 en 193 lande.
# Tennis: Die Rus, Daniil Medvedev, het by die Australiese Ope sy raket in ‘n epiese woedebui verpletter en moes vyf stelle lank om oorlewing spook. Medvedev het kop verloor in die derde stel voor hy Thailand se Kasidit Samrej met 6-2, 4-6, 3-6, 6-1, 6-2 kon klop. Die vyfde gekeurde Medvedev was met 3-5 agter en sou met twee stelle teen een agterloop teen speler nommer 418 op die wêreldranglys, toe hy sy humeur verloor en die netkamera herhaaldelik met die raket bykom totdat niks van albei oorgebly het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-883-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….