Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe ontken menseregteskendings in die Stilfontein onwettige mynbou
# Krieket: Shreyas Iyer voer die Punjab Kings aan in die IPL
# En, Gerard Butler se Den of Thieves 2: Pantera verdien groot geld
# Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, verwerp bewerings van menseregteskendings tydens die onwettige mynkrisis in Stilfontein. Een-duisend-564 mynwerkers is weer bogronds en agt liggame is teruggevind. Mantashe het aan Newzroom Afrika gesê die handel in onwettige minerale het in 2024 50-miljard-rand bereik. Hy het ook die groep Mining Affected Communities United in Action gewaarsku teen die aanhits tot misdadigheid:
# Die Raad vir Gehalteversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding, Umalusi, berig Mpumalanga en KwaZulu-Natal het die hoogste aantal eksamenwanpraktyke aangeteken in die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Mpumalanga het 195 kandidate wat betrek word, aangemeld en KwaZulu-Natal het gevolg met 74. Die voorvalle sluit in, groepe wat saam afskryf en ander onreëlmatige bedrywighede. Die uitvoerende hoof van Umalusi, Mafu Rakometsi, het op ‘n nuuskonferensie strenger maatreëls gevra om die integriteit van die eksamen te handhaaf en toekomstige probleme te voorkom:
# Mosambiek gaan vandag sy nuwe Parlement inhuldig, ná dodelike betogings oor die verkiesing in Oktober, waarin daar volgens die opposisie, met die uitslae gepeuter is. Die opposisieleier, Venancio Mondlane het ‘n beroep gedoen op sy ondersteuners om vreedsame betogings te hou vanaf vandag tot Woensdag, wanneer Daniel Chapo van Frelimo as president ingehuldig word. Twee opposisiepartye, Renamo en die Demokratiese Beweging van Mosambiek, MDM, het aangekondig hulle boikot vandag die verrigtinge waar die nuwe Parlementslede inhuldig word.
# Krieket: Indiese kolwer, Shreyas Iyer, is aangewys om die Indiese Premierligaspan, Punjab Kings, in die komende weergawe van die winsgewende T20-toernooi aan te voer. Iyer was kaptein van die Kolkata Knight Riders wat verlede seisoen die kroon gedra het. Punjab het hom teen 60-miljoen-rand opgeraap as die tweede duurste kopie op die IPL-veiling in Desember. Die 30-jarige Iyer sê hy is opgewonde om weer met die Australiese legende en nuwe afrigter van Punjab, Ricky Ponting, kragte saam te snoer nadat die twee tevore by die Delhi Capitals saamgewerk het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-252-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-680-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-19-sent per vat.
# Ten slotte: Lionsgate se roofriller, Den of Thieves 2: Pantera, het die naweek sy debuut in die eerste plek gemaak in Noord-Amerikaanse fliekteaters. Die film met Gerard Butler in die hoofrol, volg ‘n Los Angeles-polisiebeampte wat in Europa op die spoor is van ʼn gewese vlootsoldaat, Donnie, wat ʼn reuse-diamantrooftog beplan. Donnie word deur O’Shea Jackson Junior gespeel. Disney se Mufasa: The Lion King is in sy vierde naweek steeds tweede en die Paramount-fliek, Sonic the Hedgehog 3, is derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….