Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie stel ondersoek in na aanleiding van beweerde kinderontvoering op sosiale media in Pretoria
# Die Menseregtekommissie oorweeg om die Gelykheidshof te nader oor beweerde rassisme-voorval op FlySafair-vlug
# En, tennis: Naomi Osaka is deur na die Auckland-toernooi se halfeindronde
# Die polisie in Gauteng het bevestig ‘n ondersoek is begin na aanleiding van inligting wat die rondes doen oor ‘n kind wat na bewering gisteraand in Claremontstraat in Daspoort in Pretoria ontvoer is en veld toe gesleep is. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi sê hoewel niemand na vore gekom het om ‘n vermiste kind aan te meld nie, is ‘n soektog van stapel gestuur en die beweerde ontvoerde meisie is nie gevind nie:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oorweeg dit om die FlySafair-rassismevoorval na die Gelykheidshof te verwys. ‘n Video van SABC-werknemer, Nobuntu Mkhize, op ‘n vlug op Tweede Kersdag van Durban na Kaapstad, toon hoe sy na bewering rassistiese uitlatings teenoor die kajuitbemanning uiter en hulle te lyf gaan. Die voorsitter van die kommissie, Chris Nissen, sê die aangeleentheid kan tot boetes of gemeenskapsdiens lei indien dit bevestig kan word regte is geskend. Strafregtelike klagtes is sedertdien ingedien terwyl die polisieondersoek voortduur.
# Save South Africa is bekommerd oor die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionale Sake se besluit om die kontrakte te kanseleer van gemeenskapswerkers van 55 en ouer, met ingang 31 Januarie. Die woordvoerder, Tebogo Mashilompane vra die departement om die besluit te heroorweeg, en sê die beplanning en tydberekening is verdag. Hy sê die besluit is onregverdig teenoor ouer werkers wat onwaarskynlik werk sal kry, wat werkloosheid en armoede sal vererger:
# Israel het onthul hy het maande voor die Assad-regime ineengestort het, troepe na Sirië ontplooi en ‘n nagoperasie van stapel gestuur om ‘n reuse ondergrondse missielfabriek te teiken. Volgens Israel is die fabriek deur Iran befonds. Die Israelse weermag sê die klopjag op 8 September verlede jaar is aangespoor deur missielvervaardiging wat by die fabriek naby Maysaf in die weste van Sirië begin het. Die Sirian Observatory for Human Rights-oorlogmonitor het vroeër berig 27 mense is in die klopjag dood. Die Israeliese weermag het geen ongevallesyfers bekend gemaak nie.
# Tennis: Die gewese voorste speler ter wêreld, Naomi Osaka, het haar strafste toets tot nog toe op die ASB Classic-toernooi in Auckland, Nieu-Seeland, geslaag toe sy die Amerikaner Hailey Baptiste 5-7, 6-1, 6-2 geklop het. Osaka sal môre in die halfeindronde teen die wenner van vanaand se kragmeting tussen Katie Volynets en Alycia Parks te staan kom. Dit is Osaka se eerste halfeindstryd sedert sy in Julie 2023 ma geword het – ‘n gebeurtenis wat haar in haar woorde trots en gelukkig gemaak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-446-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-656-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….