Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tradisionele leiers vra ‘n verbod van twee jaar om inlywingsterftes in die Oos-Kaap te voorkom
# ‘n Jong Suid-Afrikaans-gebore kolwer wil nie net bekendstaan as ‘n T20-krieketspeler nie
# En, ‘n polisielid geklee soos die Grinch lei ‘n dwelmklopjag in Peru
# Die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika vra ‘n verbod van twee jaar op inlywingskole in die Oos-Kaap nadat 20 kandidate reeds dié seisoen dood is. Die voorsitter van Kontralesa, Mathupa Mokoena, stel voor blywende oplossings moet tydens die moratorium ontwikkel word. Volgens Mokoena is buitengewone maatreëls nodig vir hierdie voortslepende probleem en die verbod sal die geleentheid skep om sterftes te voorkom en die veiligheid van kandidate te verseker.
# Die burgerlike organisasie Save South Africa vra die ministerie van Gesondheid om die verkope van kondome in spazawinkels op te skort na berigte dat vervalsde kondome in Sunnyside, Pretoria, verkoop is. Woordvoerder Tebogo Mashilompane waarsku oor gesondheidsgevare soos besmettings en onbeplande swangerskappe omdat gehalte nie gereguleer word nie. Hy het die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, gevra om vinnig op te tree, en inwoners om eerder staatsuitgereikte kondome te gebruik vir hulle eie veiligheid:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging wag op die antwoord van Suid-Afrika se vernaamste handelsbanke nadat hulle gevra is om te verskyn en hulle krediet- en ander beleid te verduidelik. Voorsitter Mzwandile Masina sê die moontlike datum vir die vergadering is 4 Februarie. Hy het aan die SABC gesê deursigtigheid oor banke se kredietbeleid is noodsaaklik. Masina sê die betrokke banke is onder meer Standard, Investec, FNB en Nedbank:
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore kolwer Bevon Jacobs sê hy wil nie bekend word as ‘n eendimensionele speler nie. Dit volg op sy insluiting in Nieu-Seeland se groep vir die T20-reeks teen Sri Lanka – slegs ‘n maand nadat die Mumbai Indians hom gekoop het vir volgende jaar se Indiese Premierliga in dieselfde formaat. Jacob sê sy deurbraak na slegs 25 senior wedstryde was vinniger as wat hy verwag het, maar hy gaan die geleentheid aangryp. Die 22-jarige is in Pretoria gebore, maar het in Auckland grootgeword.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-861-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-615-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Polisielid geklee soos die Grinch het ‘n dwelmklopjag uitgevoer in Lima, Peru. ‘n Video wat die nasionale polisie-agentskap vrygestel het, wys hoe lede ‘n deur afbreek en ‘n huis binnegaan. Die polisie sê drie mense is in hegtenis geneem en verskeie klein pakkies kokaïen is gevind. Die polisie-eenheid in die hoofstad is bekend vir die gebruik van agente in kostuums. ‘n Lid in ‘n teddiebeer-pak het vroeër vanjaar op ‘n vermeende dwelmhandelaar toegeslaan tydens ‘n operasie op Valentynsdag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….