Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nuwe maatreëls word ingestel om opeenhoping op die Lebombo-grenspos in Mpumalanga aan te pak
# Maleisië stem in tot ‘n nuwe soektog na die vliegtuig wat tien jaar gelede verdwyn het met 239 mense aan boord
# En rugby: Die Stormers verwelkom vyf Springbokke terug vir die kragmeting met die Leeus
# Die Grensbestuursowerheid sê planne is gemaak om die opeenhoping van verkeer op die Lebombo-grenspos in Mpumalanga aan te pak. Die kommissaris, Michael Masiapato het aan Newzroom Afrika gesê Suid-Afrikaanse en Mosambiekse amptenare sal saamwerk, en hommeltuie sal die eerste keer ontplooi word nadat die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, dit van stapel gestuur het. Hy sê politieke onrus en onwettige migrasie bly kernkwessies, maar dit word gemonitor:
# Die Gesondheidsdepartement het mense gevra om kalm te bly na ‘n toename in gevalle van Duitse masels. Meer as tien-duisend gevalle is vanjaar aangemeld, meestal by kinders onder 15. Gauteng en die Wes-Kaap het die meeste gevalle aangeteken. Ouers moet op die uitkyk wees vir simptome soos ‘n uitslag, koors en geswelde limfkliere. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê hoewel Duitse masels minder ernstig is by kinders, hou dit groot gevare in vir swanger vroue en hulle ongebore babas:
# Maleisië se kabinet het ingestem tot ‘n nuwe soektog na Malaysia Airlines se Vlug MH370, wat tien jaar gelede geheimsinnig verdwyn het. Die Boeing 777 met 239 mense aan boord het op 8 Maart 2014 tussen Kuala Lumpur en Beijing van radarskerms verdwyn. Die minister van Vervoer, Anthony Loke, sê die regering het ingestem dat ‘n maatskappy met kantore in Amerika en Brittanje, Ocean Infinity, mag voortgaan met die soektog in ‘n nuwe gebied van ongeveer 15-duisend vierkante kilometer in die suidelike Indiese Oseaan.
# Rugby: Die Springbok-haker Deon Fourie keer na ‘n besering terug om die Stormers aan te voer in môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Leeus in Kaapstad. Die Bokslot Salmaan Moerat speel in sy 50ste wedstryd. Drie ander Bokke, Manie Libbok, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Ben-Jason Dixon, keer na harsingskudding terug om hulle plek in die opdrafspan in te neem saam met die toets-vaskopstut, Frans Malherbe. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê vyf Bokke wat terugkeer na beserings is ʼn tydige hupstoot vir so ʼn groot wedstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-661-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-605-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Koning Charles se kankerbehandeling sal in die nuwe jaar voortgaan. Sky News sê bronne in die paleis berig die behandeling verloop goed en die siklus sal volgende jaar voortduur. Volgens die bron sal die koning volhou met sy besige skedule van openbare afsprake, ook gedurende die feestyd. Buckingham-paleis het in Februarie aangekondig hy is met kanker gediagnoseer. Die monarg het self besluit om sy diagnose bekend te maak en sy ervaring te deel met die hoop dat dit ander kan help.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….