Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Swaar verkeersvolumes word steeds op die N3-tolroete ondervind
# Asiese markte daal skerp nadat Wall Street tuimel weens verwagtinge van minder rentekoersverlagings
# En die Internasionale Krieketraad bereik ‘n ooreenkoms met Pakistan en Indië vir die Kampioenetrofee-toernooi
# Die N3-tolkonsessie sê druk verkeersvolumes word vandag steeds ondervind op die N3-tolroete in Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Woordvoerder Thania Dhoogra sê hierdie volumes sal na verwagting verder toeneem deur die loop van die komende naweek. Sy sê daar was ‘n aantal ernstige botsings sedert die begin van die vakansietyd en meer as 80-persent van hierdie botsings is deur menslike foute veroorsaak:
Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê intussen pogings om Durban as vakansiebestemming te laat herleef, werp vrugte af aangesien die eThekwini-munisipaliteit hierdie feestyd 1,3-miljoen besoekers verwag. Die minister het aan SABC-nuus gesê sy prys die werk van die presidensiële taakspan om vakansiegangers terug te lok na die stad. De Lille sê Durban het verlede jaar slegs 700-duisend besoekers ontvang teenoor 1,45-miljoen in 2017:
# Asiese markte het vandag skerp gedaal nadat Wall Street getuimel het nadat die Federale Reserweraad sy rentekoersvooruitsigte met die helfte verminder het. Hoewel gister se koersverlaging wyd verwag is, word vooruitskattings met valkoë dopgehou en daarvolgens sal die bank volgende jaar koerse net twee keer verlaag in teenstelling met die vier wat voorheen voorspel is. Beleggers wonder hoe die Fed homself sal posisioneer voor Donald Trump oorneem as president te midde van waarskuwings dat sy planne oor verminderde belasting, minder regulasies en tariewe vir China inflasie kan laat opvlam.
# Krieket: Indië gaan sy wedstryde in volgende jaar se Kampioenetrofee-toernooi op neutrale velde speel nadat die Internasionale Krieketraad tot ‘n vergelyk gekom het met die land en die gasheer, Pakistan. Indië was nie bereid om sy jare lange politieke aartsvyand te besoek nie. Pakistan gaan tot 2027 ook nie IKR-wedstryde in Indië speel nie, maar op neutrale velde. Die Kampioenebekertoernooi bestaan uit die gasheer en die sewe spanne wat die beste gevaar het in verlede jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi. Dit begin op 19 Februarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-164-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-620-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Die Kaapstadse Kinderkoor verteenwoordig Suid-Afrika volgende jaar op die INTERKULTUR-Afrika/Asië/Stille Oseaan-koorspele in Mauritius. Die koor sal sy talent ten toon stel saam met koraalgroepe uit meer as 100 lande. Die kompetisiekategorieë wissel van oop kompetisies tot die kampioenskap en die Grand Prix van Nasies. Die koor vra ondersteuning om reiskoste, klere en ander koste te dek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….