Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nuwe kundige komitee oor gesondheid gee aandag aan voedseloordraagbare siektes
# Keeley Hodgkinson word bo Littler en Root verkies as die BBC se sportpersoonlikheid van die jaar
# En, Kenia beplan in vitro-bevrugting om skaars witrenosters te red
# Die ministeriële raadgewende komitee oor voedseloordraagbare siektes het 15 kundiges aangestel om langtermyn-strategieë te ontwikkel vir die voorkoming van uitbrekings en die verbetering van voedselveiligheid. Dit volg nadat verskeie kinders gesterf het nadat hulle versnaperinge geëet het wat besmet was met die uiters giftige chemiese organofosfaat Terbufos. Dit het die regering aangespoor om gesondheidsregulasies te versterk. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die komitee sal aandag skenk aan leemtes in die regulatoriese stelsel om openbare gesondheidsveiligheid te verseker:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, vra president Cyril Ramaphosa om Artikels Vier en Vyf van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette na die Nasionale Vergadering terug te verwys vir verdere bespreking. Die twee omstrede klousules hanteer die taal- en toelatingsbeleid van staatskole. Makaneta sê die voortslepende debatte rondom Afrikaans in Suid-Afrika het uitgeloop op ‘n kommerwekkende uitkoms:
# Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie lig die belangrkheid uit van die hervorming van landbouvoedselstelsels om iets te doen aan die ineengeskakelde uitdagings van klimaatsverandering, verlies aan bioverskeidenheid en agteruitgang van grond. Ongeveer 40-persent van die wêreld se bevolking is hoogs kwesbaar vir die klimaatskrisis. Uiterste weerstoestande is een van die hoofaandrywers van hongersnood, met meer as 730-miljoen mense wat hongersnood ervaar, tesame met voedselonsekerheid en wanvoeding. Die organisasie sê volhoubare agrivoedselstelsels is sleuteloplossings in die globale oplossing van klimaatsuitdagings en hongersnood.
# Nou sportnuus: Die Britse middelafstandatleet Keely Hodgkinson is aangewys as die BBC se sportpersoonlikheid van die jaar nadat sy goud verower het in die 800-meter op die Olimpiese Spele in Parys. Die publiek het haar gekies bo die veerpyltjie-ster Luke Littler en die nasionale krieketspeler Joe Root. Ander benoemdes was die para-fietsryer Sarah Storey, die wêreld-driekamp-kampioen, Alex Yee, en Real Madrid se sokker-ster, Jude Bellingham. Hodgkinson, wat op die vorige Spele in Tokio silwer in die nommer gewen het, is die vierde vrou in ‘n ry wat die gesogte toekenning opraap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-282-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Kenia begin met ‘n in vitro-bevrugtingsprogram om die kritiek-bedreigde noordelike witrenoster te red, waarvan daar tans wêreldwyd net twee koeie oor is. Spanne van die land se natuurlewediens en BioRescue sal laboratorium-ontwikkelde embrio’s en gevorderde stamseltegnieke gebruik om die spesie te laat herleef. Hierdie poging is in elke opsig dringend aangesien daar geen bulle vir natuurlike teling oorbly nie en die koeie is besig om oud te word. Boonop wis stropery en die horinghandel steeds bevolkings uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….