Nuus 14:00
BULLETIN 24 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA kritiseer die hofuitspraak wat Ramaphosa se ampsklagproses staak
# Standard Bank sê bestendige rentekoerse verlig die druk op die landbousektor
# En wetenskaplikes ontrafel die geheim van voëlsang-verskeidenheid
# ActionSA is bekommerd oor die Wes-Kaapse Hooggeregshof se meerderheidsbeslissing om die Parlement se Artikel 89-ampsklagproses teen president Cyril Ramaphosa tydelik te staak. Die party sê die uitspraak verhoed die Parlement om sy grondwetlike toesighoudende rol uit te oefen terwyl hofsake voortduur. Woordvoerder Lerato Ngobeni sê aanspreeklikheid moenie deur langdurige litigasie vertraag word nie en waarsku herhaalde hofaansoeke kan die Parlement se magte verswak:
# Standard Bank sê die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om rentekoerse onveranderd te laat, bied welkome verligting vir die landbousektor. Dis geneem ondanks die inflasiekoers wat verlede maand tot vyf-persent gestyg het. Brendan Jacobs van Standard Bank waarsku dat die landbou-sektor steeds aansienlike eksterne risiko’s ondervind, veral weens die voortslepende geopolitieke spanning in die Midde-Ooste. Hy sê ondanks hierdie uitdagings is daar bemoedigende verwikkelinge wat voedsel-inflasie betref:
Nuus uit die buiteland:
# Die Filippynse Kuswag beskuldig sy Chinese ampsgenoot dat hy weer waterkanonne afgevuur het op regeringskepe, die derde voorval tussen die twee lande in die Suid-Chinese See hierdie week. ‘n Chinese vaartuig het tot binne sewe meter van ‘n Filippynse vissersboot beweeg in die Scarborough-rif in die Filippyne se eksklusiewe ekonomiese sone, wat ‘n ernstige gevaar geskep het. ‘n Soortgelyke voorval het gister plaasgevind. China eis soewereiniteit oor bykans die hele waterweg, insluitend dele van die eksklusiewe ekonomiese sones van Brunei, Indonesië, Maleisië, die Filippyne en Viëtnam.
# Motorsport: Die Mercedes-renjaer George Russell beskryf sy seisoen as ‘n emosionele wipplank nadat hy dit as ‘n gunsteling vir die wêreldkampioenskapstitel begin het. ‘n Battery-fout en ‘n botsing tydens verlede naweek se Belgiese Grand Prix het gelei tot sy tweede onvoltooide wedren. Die Brit is 50 punte agter sy spanmaat, Kimi Antonelli, voor die naweek se Hongaarse Grand Prix, maar sê die stryd om die wêreldkampioenskapstitel is nog nie verby nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-970-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-60-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes in Frankryk het die boustene van die merkwaardige verskeidenheid voëlsang ontdek, wat een van die mees verfynde vorms van klank-kommunikasie in die natuur is. ‘n Navorsingspan het meer as 100-duisend klanke van drie-duisend voëlspesies ontleed en bevind almal bestaan uit agt basiese klankpatrone. ‘n Belangrike bevinding is die omgewing waarin voëls ontwikkel, vanaf tropiese woude tot gematigde landskappe, bepaal hoe hulle hul klank saamstel. Die navorsers waarsku voëlsang kan verdwyn indien hul habitat vernietig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….