Nuus 14:00
BULLETIN 5 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA ekonomie groei met 0,1% in die vierde kwartaal van 2023
# Die DBV is bekommerd oor ‘n tweede skip vol vee wat die Kaapse waters nader
# En rugby: Die Haaie is die groot gunstelinge om die terugkeer van die Bok-senter Esterhuizen te bevestig
# Suid-Afrika se ekonomie het in die vierde kwartaal van 2023 met ‘n marginale 0.1-persent gegroei. Mynbou het met 2,4-persent gestyg en elektrisiteit, gas en water het ‘n tweede agtereenvolgende kwartaal van positiewe groei behaal, en met 2,3-persent toegeneem. Aan die negatiewe kant was handel, landbou, die boubedryf en die regering swakker. Statistieke Suid-Afrika sê dit neem die jaarlikse groeikoers vir 2023 na 0,6-persent, teenoor 1,9-persent in 2022. Landbou het sy eerste jaarlikse inkrimping aangeteken sedert 2019, en het met 12,2-persent gekrimp. Dit is die grootste daling op ‘n jaargrondslag in landbouproduksie, sedert 1995.
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings het kommer uitgespreek oor nog ‘n skip vol vee wat vaar om die Kaapse kus. Dit volg nadat die Al Kuwait twee weke gelede in Kaapstad vasgemeer het. Die diere aan boord is aangetref in uiters haglike toestande, wat onuithoudbare stank veroorsaak het. Die raad sê baie van hierdie diere was waarskynlik 40 dae op die skip en nog nie naby hulle bestemming nie.
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, en die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het aangekondig dat die bespuiting van onkruid in die Vaalrivier met glifosaat opgeskort is. Die twee ministers het ‘n tegniese taakspan onder leiding van Rand Water se bestuur tot stand gebring ná openbare kommer oor die gebruik van glifosaat op waterslaai in die Vaalrivier. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê nakoming- en toepassingsingrypings sal in die mediumtermyn verskerp word teen besoedelingsbronne wat die toestand vererger:
# Turkye sê hy hou sewe mense aan, onder andere ‘n spesiale speurder, wat verdink word van spioenasie vir Israel se Mossad-intelligensiediens. Die operasie deur Turkye se spioenasie-agentskap en die teen-terreurpolisie in Istanbul, het bevind die verdagtes het inligting aan Mossad verkoop. Die klopjagte volg nadat die Turkse owerhede in Januarie 34 verdagtes vasgetrek het vir die beplanning van ontvoerings en spioenasie vir Mossad.
# Rugby: Die Haaie en die Stormers het albei aangedui dat hulle in die Springbok-senter André Esterhuizen belangstel. Hy verlaat die Engelse klub Harlequins aan die einde van die seisoen. Daar is egter vele gerugte dat die 29-jarige Wêreldbeker-wenner moontlik terugkeer Durban toe. Esterhuizen het sewe jaar vir die Haaie gespeel voordat hy in 2020 Londen toe is om vir die Harlequins te speel. Hy sê dit was ‘n voorreg om Quins te verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-993-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-126-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….