Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê misdaad moet onder beheer gekry word sodat Suid-Afrika sy potensiaal kan bereik
# Motorsport: Brasilië bied in 2026 weer die MotoGP aan
# En, Tyla blink uit op die Billboard-musiektoekennings met twee pryse
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê misdaad is een van die grootste remskoene vir ekonomiese groei en ‘n ernstige struikelblok voor Suid-Afrika sy volle potensiaal kan bereik. Volgens die Wêreldbank kos misdaad jaarliks tot tien-persent van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk. Die instituut het vandag sy jongste publikasie bekendgestel met die titel, Solutions to SA’s Crime Crisis to Boost Growth. Woordvoerder Marius Roodt sê dit stel verskeie oplossings voor, insluitend wetshervorming en groter betrokkenheid van die privaat sektor om oplossings vir die misdaadkrisis te vind.
# Bidvest Group het besluit om 100-persent van Bidvest Bank Holdings vir 2,8-miljard-rand aan Access Bank te verkoop. Die uitvoerende hoof, Mpumi Madisa, is vol vertroue dat die vooraanstaande finansiële instelling met ‘n wêreldwye teenwoordigheid sal verseker die bank groei en bly volhoubaar. Hierdie transaksie vorm deel van Bidvest se breër herstrukturering van sy Finansiële Dienste-afdeling, wat ook die verkoop van FinGlobal aan die Momentum-groep en deurlopende gesprekke oor Bidvest Life insluit.
# Die N3-tolkonsessie sê swak dissipline vier steeds hoogty onder bestuurders op die roete deur Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Bedryfsbestuurder Thania Dhoogra sê menslike faktore soos nalatigheid, roekelose gedrag en swak besluite het tussen Januarie en Oktober vanjaar bygedra tot 75-persent van ongelukke waarby ligte motorvoertuie betrokke was, asook 81-persent waarby vragmotors betrokke was:
# Motorsport: Brasilië sal in 2026 die eerste keer in meer as twee dekades weer op die MotoGP-wêreldkampioenskap se program verskyn. Die Goiania Ayrton Senna-baan wat na die plaaslike Formule Een-kampioen vernoem is, sal die wedren tot minstens 2030 aanbied. Die houer van die MotoGP-regte, Dorna Sports, se uitvoerende hoof, Carmelo Ezpeleta, sê die nuwe ooreenkoms bied ‘n uitstekende geleentheid om uit te brei in Suid-Amerika, wat ʼn belangrike mark vir die sport en vervaardigers is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-118-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse popsensasie, Tyla, het uitgeblink op 2024 se Billboard-musiektoekennings en is vereer vir beste Afrobeats-liedjie en Afrobeats-kunstenaar. Sy is agt keer in ses kategorieë benoem, insluitend Top R-en-B-kunstenaar en Top R-en-B vroulike kunstenaar. Tyla, wat bekend is vir amapiano-musiek, het ook toekennings verower op die SAMA’s, Grammys, BET en MTV EMA’s. Sy het haar aanhangers bedank vir hul ondersteuning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….