Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jaarlikse inflasie styg tot 2,9-persent in November
# Carl Niehaus bestempel voormalige EFF-leiers as verraaiers voor sy nasionale konferensie
# En, tennis: Jannik Sinner is oortuig hy sal ‘n skorsing vryspring na sy positiewe opkikkertoets
# Jaarlikse inflasie het verlede maand tot 2,9-persent gestyg, effens hoër as die 2,8-persent in Oktober. Voedselinflasie het daarenteen tot die laagste vlak in 14 jaar afgeneem en pryse vir items soos groente, brood en suiwel het gedaal. Brandstofpryse het met 0,9-persent gestyg, terwyl daar ‘n styging van 5,9-persent in restaurante en hotelle se uitgawes was. Die woordvoerder van Statistieke Suid-Afrika, Patrick Kelly, sê die armste huishoudings beleef steeds die hoogste inflasie teen 3,8-persent, terwyl die rykstes ‘n koers van drie-persent ondervind het:
# Die EFF-parlementslid Carl Niehaus bestempel lede wat na die MK-party oorgeloop het as verraaiers en waarsku hulle sal uitdagings ervaar in die party van Jacob Zuma. Niehaus het die eenheid van die EFF geprys voor die naweek se nasionale konferensie by Nasrec. Die EFF se tesourier, Omphile Maotwe, het intussen bevestig die party is gereed en het sy sterkte beklemtoon, ondanks noemenswaardige uittredes. Sy sê afgevaardigdes sal ‘n nuwe leierskap en debatsbeleid kies om te verseker die EFF bly ‘n verenigde mag.
# Die DA sê die regering moet indringende veranderings instel om geslagsgeweld en vrouemoord doeltreffend teen te werk. Die party is teleurgesteld dat die 16 Dae-veldtog van Aktivisme teen Geslagsgeweld nie gebruik is om die Nasionale Raad teen Geslagsgeweld en Vrouemoord in werking te stel sodat hy met sy uiters belangrike werk kan begin nie. Karabo Khakhau van die DA sê die minister vir Vroue en Kinders, Sindisiwe Chikunga, het nie opgetree om die raad te finansier of van bronne te voorsien nie:
# Tennis: Die wêreld nommer een, Jannik Sinner, is oortuig hy sal ‘n skorsing vryspring na sy positiewe opkikkertoets. Daar is in Augustus bekendgemaak hy het positief getoets vir spore van ʼn verbode middel, maar die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap het besluit om hom nie te skors nie. Hy wag nou op die appèl van die Wêreldagentskap teen die gebruik van Verbode Middels. Volgens die Italianer het dit hom slapelose nagte besorg, maar ook gewys wie werklik sy vriende is. Sinner het egter steeds ‘n uitstekende jaar gehad en die ATP-eindtoernooi gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-63-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-698-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die getal luiperds het verdriedubbel in die wêreld se grootste bewaringsgebied, die Kafue-nasionale park in Zambië. Die park spog tans met 4,4 luiperds per 100 vierkante kilometer. Die park maak gebruik van kameras om die diergetalle te monitor, asook slimmer teen-stropingspatrollies en GPS-toestelle op witrugaasvoëls om op te tree as ‘n vroeë waarskuwingstelsel vir potensiële stropery. Hierdie stappe het ook gelei tot ‘n ommekeer in die afname van die leeubevolking. Luiperds word gelys as kwesbaar op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring se rooilys van bedreigde spesies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….