Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ahmed Kathrada-stigting se hoof word gedagvaar om te getuig oor die dood van twee MK-lede in 1989
# Krieket: Die Proteas se eerste beurt eindig op 358 na honderdtalle deur Rickleton en Verreyne
# En, die Vereniging van Psigiaters sê die kringloop van geslagsgeweld moet in die kinderjare verbreek word
# Die Ahmed Kathrada-stigting se uitvoerende direkteur, Neeshan Balton, sal na verwagting vandag in die Landdroshof in Randburg, Gauteng, getuig oor die dood van die uMkhonto weSizwe-lede Prakash Napier en Yusuf Akhalwaya in 1989. Die twee is dood in ‘n voortydige ontploffing op Parkstasie in Johannesburg. Die Valke, wat ‘n moontlike moordsaak ondersoek na aanleiding van die Waarheids- en Versoeningskommissie se bevindings, beweer Balton beskik oor kritieke inligting oor die operasie. Hy ontken enige betrokkenheid, maar het sy samewerking beloof.
# Build One South Africa verwelkom die vyf-miljard-rand wat die Nasionale Vervolgingsgesag teruggevorder het. Dit is onthul in ‘n parlementêre antwoord van die Ministerie van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling. Die ministerie wys daarop dat die NVG slegs teen 52-persent van sy vereiste vermoë bedryf word, wat hom verhinder om strafregtelike sake doeltreffend te vervolg. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê geregtigheid word verder vetraag weens 225 uitstaande sake, waarvan talle in die Spesiale Tribunaal en die Hooggeregshowe sloer:
# Ses onwettige mynwerkers wat vanoggend uit Skag 11 by Stilfontein in Noordwes na die oppervlak gekom het, beweer hulle is gedwing om met goud te betaal vir kos wat ondergronds deur Basotho-mans verkoop is. Volgens News24 is die mans Mosambiekers wat net na middernag in hegtenis geneem is. Hulle beskryf angswekkende omstandighede waar hulle pap en kakkerlakke moes eet tydens hulle drie dae lange ontsnapping. Hulle beweer daar is nog meer as 800 mans ondergronds vasgekeer en onder beheer van gewapende mans.
# Krieket: Sri Lanka het Suid-Afrika vir 358 uitgeboul op die tweede oggend van die tweede toets in Gqeberha – maar nie voor Kyle Verreyne die gashere se tweede honderdtal aangeteken het nie. Hy was uiteindelik onoorwonne op 105 nadat Ryan Rickelton gister sy eerste toetshonderdtal behaal het. Kaptein Temba Bavuma het 78 bygedra en Kagiso Rabada ‘n waardevolle 23. Lahiru Kumara het vier paaltjies geneem. Suid-Afrika het die eerste toets in Durban beklink en nog ʼn oorwinning sal hulle kanse verbeter om die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-46-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-538-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die gehalte en toegang tot openbare geestesgesondheidsdienste is belangrik om die kringloop van geslagsgeweld te verbreek en moet versterk word. Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters sê hierdie vorm van geweld begin wanneer kinders blootgestel word aan geweld tussen lewensmaats, en kindermishandeling. Volgens Ronell Williamson van die organisasie het tot 34-persent van vroue wat fisies of seksueel deur lewensmaats aangerand word, gesien hoe hul ma’s deur ʼn lewensmaat mishandel word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….