Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom Suid-Afrika se geskiedkundige G20-presidentskap
# ‘n Peiling toon die meerderheid Franse wil hê president Emmanuel Macron moet bedank
# En, rugby: Saru verdedig sy aandeletransaksie voor ‘n kritieke stemmery
# Die kabinet ondersteun Suid-Afrika se geskiedkundige presidentskap van die G20. Dit is die eerste keer dat die land die presidentskap van die wêreld se voorste ekonomiese forum beklee. Volgens die kabinet stel hierdie mylpaal Suid-Afrika in staat om wêreldwye ekonomiese beleid te beïnvloed, met die fokus op inklusiewe groei, volhoubaarheid, klimaatsverandering en ongelykheid. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die presidentskap is ‘n geleentheid om Afrika se voorkeur-belange op die globale agenda te bevorder:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is nie verbaas oor die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se onthulling dat een-duisend-866 gesondheidsgeriewe nie aan beroepsgesondheid- en veiligheidstandaarde voldoen nie. Dit vorm deel van drie-duisend-en-92 openbare gesondheidsgeriewe waar toesig-besoeke gedoen is. Claude Naiker van die vakbond sê hierdie uitkoms verteenwoordig meer as 60-persent van die betrokke instellings. Hy sê die veldtog was om ‘n gunstige werksomgewing te verseker in sy strewe na die gesondheid en veiligheid van werknemers in die openbare sektor:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie sê ‘n voorgestelde mosie teen Israel by die Universiteit van Kaapstad kan miljoene-rand se befondsing vir navorsing en steun aan studente in gevaar stel. Die mosie word vandag bespreek en is soortgelyk aan ‘n voorstel in 2019 wat Amerikaanse befondsing van 600-miljoen-rand vir navorsing en ander kritieke skenkings bedreig. Woordvoerder Rolene Marks waarsku dat politieke optrede teen Israel die akademiese en finansiële bestendigheid van die universiteit in gevaar stel, wat moontlik beurse en vennootskappe kan raak.
# Byna twee-derdes van Franse is ten gunste daarvan dat president Emmanuel Macron bedank. ‘n Interaktiewe opname wat gedoen is ure nadat premier Michel Barnier se regering ‘n mosie van wantroue verloor het, het bevind 64-persent van die deelnemers is ten gunste daarvan dat Macron bedank. ’n Klein meerderheid van 53-persent verwelkom die uitslag van die mosie, maar 82-persent is in die algemeen bekommerd oor die toekoms van Frankryk. ‘n Soortgelyke persentasie is bekommerd oor die Franse ekonomie, met 80-persent bekommerd oor die styging in die begrotingstekort.
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, beklemtoon weereens die Ackerley-sportgroep se belegging van 1,4-miljard-rand is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van die sport te midde van ekonomiese uitdagings. ‘n Allerbelangrike stemmery vind môre plaas en benodig ʼn meerderheid van 75-persent om te slaag. Die regering het vrae oor deursigtigheid en die konsultantrol van die voormalige uitvoerende hoof, Jurie Roux, ten spyte van vorige finansiële wangedrag. Alexander sê indien die transaksie verwerp word, onderneem SA Rugby om alternatiewe beleggings te vind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-824-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….