Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof gelas Floyd Brink se verwydering as stadsbestuurder van Johannesburg
# ‘n Matige aardskudding kom wes van Springbok in die Noord-Kaap voor
# En krieket: Heinrich Klaasen voer die Proteas aan in die T20’s teen Pakistan terwyl Markram ‘n blaaskans kry
# Die Gautengse Hooggeregshof het die stadsbestuurder van Johannesburg, Floyd Brink, opdrag gegee om sy kantoor binne tien werksdae te ontruim. Die DA het die saak aanhangig gemaak weens kommer oor Brink se aanstelling en die hof het beslis dit was onreëlmatig. Die besluit volg op ‘n dringende en buitengewone raadsverslag, wat Brink se eie klagte ingesluit het omdat hy vir die permanente rol oor die hoof gesien is terwyl hy as waarnemende stadsbestuurder gedien het.
# Cope sê ‘n herbeoordeling van die provinsies en die oortollige vlakke van die regering moes lankal gebeur het. Pakes Dikgetsi van die party sê dit is tyd vir belastingbetalers om versigtig die uitwerking te oorweeg van die tweede Wysigingswet op die Kieswette, wat, onder meer aansienlike pogings voorstel om die nasionale en provinsiale wetgewers kleiner te maak. Dikgetsi sê die wetsontwerp hou verreikende gevolge in vir hoe belastingbetalers se geld gemors word deur oordadige besteding op wetgewers:
# ’n Aardbewing van 4,2 is gisteraand laat wes van Springbok in die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap aangeteken. Die Europees-Mediterreense Seismologiese Sentrum het die aardbewing op ‘n diepte van tien kilometer aangemeld. Seismoloë hersien die data terwyl verslae van ander agentskappe beskikbaar word. Daar was geen onmiddellike berigte van skade of beserings nie.
# Krieket: Heinrich Klaasen sal die Proteas in die drie T20’s teen Pakistan aanvoer wat Dinsdag in Durban begin. Dit volg op die besluit om die gereelde witbalkaptein, Aiden Markram, nie te oorweeg nie, saam met Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Tristan Stubbs. Hulle is tans betrokke in die toetsreeks teen Sri Lanka en sal nie in die T20’s speel nie omdat die reekse so vinnig op mekaar volg. Die draaibouler Tabraiz Shamsi en die snelbouler Anrich Nortjé keer die eerste keer terug sedert die T20-Wêreldbekertoernooi in Junie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-795-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê die jaarlikse Identikidz-program skop volgende Saterdag in Strandfontein af. Die program wil kinders veilig hou en aan hulle ouers en versorgers gerustheid gee wanneer hulle die strand besoek. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê verlede jaar het 133-duisend-730 kinders armbandjies gekry in die vyf spitsnaweke, en 302 kinders en hulle geliefdes is weer by mekaar uitgebring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….