Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stel die G20-presidentskap amptelik bekend
# LP’s vra ‘n ondersoek na Suid-Afrika se stygende vlugkaartjiepryse
# En, rugby: Die Springbok Willie le Roux word verbind met ‘n skuif na Bath volgende seisoen
# President Cyril Ramaphosa het vandag Suid-Afrika se G20-presidentskap amptelik bekendgestel, met die fokus op klimaatsoptrede en skuldverligting vir ontwikkelende lande. Met die tema, Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid, is die fokus op die verhoging van klimaatsfinansiering vir ‘n billike energie-oorgang en die versekering van volhoubare oplossings vir skuld van lande met ‘n lae inkomste. Ramaphosa het tydens ʼn nuuskonferensie onderneem om ontwikkelingsbehoeftes van Afrika tydens die presidentskap uit te lig, wat uitloop op die G20-leiersberaad in Johannesburg in November volgende jaar:
# Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging het gevra vir ‘n markondersoek na Suid-Afrika se lugvaartsektor weens die stygende pryse van vlugkaartjies. Voorsitter Mzwandile Masina beskuldig lugdienste soos FlySafair, Lift en CemAir dat hulle lugreise onbekostigbaar maak. Die komitee is ook besorg oor die oorheersing van Airlink asook FlySafair se beweerde nie-nakoming van plaaslike wetgewing. Hulle vra ‘n ondersoek deur die Mededingingskommissie en versoek FlySafair om voor die Parlement te verskyn om te verduidelik.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra opbouende dialoog tussen onderwysleiers oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette en versoek hulle om openbare aanvalle te vermy. Hy is krities oor onlangse kommentaar deur adjunkpresident Paul Mashatile en die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, teen die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, na haar gesprekke by NEDLAC met Solidariteit en AfriForum oor betwiste klousules. Volgens Makaneta ondermyn sulke aanvalle pogings om die onderwysstelsel te verbeter:
# Rugby: Die Springbok-heelagter Willie le Roux word verbind met ‘n skuif na die Engelse Premiersliga-klub Bath na afloop van die huidige seisoen, nadat hy besluit het om nie sy kontrak met die Bulle te verleng nie. Die 35-jarige het verlede jaar ‘n tweejaar-kontrak onderteken met die keuse van ‘n verlenging van nog ‘n jaar, maar is blykbaar meer geïnteresseerd om na Bath te skuif, wat afgerig word deur die Suid-Afrikaner Johann van Graan. Bokbreier Rassie Erasmus het vroeër aangedui hy is gretig om die spelskepper minstens nog twee toetse te laat speel om 100 vir Suid-Afrika te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-392-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-644-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Menslike fout het gelei tot die dood van ʼn jong gorilla in die Calgary-dieretuin in Alberta, Kanada. Die tweejarige westelike laagland-gorilla, Eyare, is aan traumatiese kopbeserings dood nadat ʼn werker per ongeluk ʼn hidrouliese deur geaktiveer het. Die werker wou Eyare van ander gorillas skei vir solo-opleiding. ʼn Kanadese organisasie sonder winsbejag wat hom beywer vir die menslike behandeling van diere, het ʼn onafhanklike ondersoek aangevra na die omstandighede by die dieretuin in Alberta, wat meer as vier-duisend diere versorg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….