Nuus 14:00
BULLETIN 19 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Aanklaer erken die druk terwyl die NVG voorberei om ‘n saak teen Misdaadintelligensie-beamptes terug te trek
# ‘n Energie-ontleder gee die regering en Eskom die skuld vir hoë kragpryse
# En tennis: Venus Williams en Gael Monfils is onder die Amerikaanse Ope se promotorskeuses
# ‘n Aanklaer in die bedrog- en korrupsiesaak waarby senior Misdaadintelligensie-amptenare betrek is, sê daar is geweldige druk op haar uitgeoefen om die saak terug te trek. EWN berig advokaat Joy Hlatshwayo het glo aan ‘n verdedigings-prokureur gesê sy wil die saak uit die pad kry. Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig die aanklagte teen brigadier Dineo Mokwele, die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en ander beskuldigdes sal Vrydag permanent teruggetrek word. Die besluit volg op vertoë wat ontvang is en getuienis wat voor die Madlanga-kommissie aangehoor is.
Die leier van die National Coloured Congress en parlementslid, Fadiel Adams, het intussen voor die Madlanga-kommissie getuig hy het werklik vergeet van die korrespondensie wat aan hom gestuur is. Hy het verskoning gevra en dit toegeskryf aan sy veeleisende program as party-leier. Adams sê hy is besig om probleme op die Kaapse Vlakte op te los. Hy het aan die voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, gesê hy lieg nie vir die kommissie nie:
# Die onafhanklike energie-ontleder Tshepo Kgadima sê die regering en Eskom moet die skuld kry vir hoë elektrisiteitspryse. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopato, het veranderings aan die elektrisiteitsprysbeleid aangekondig wat daarop gemik is om bekostigbaarheid te verbeter en te verseker verbruikers word nie onregverdig belas met koste weens ondoeltreffendheid, munisipale skuld en wanbetaling nie. Kgadima het aan The Citizen gesê onafhanklike kragprodusente moet toegelaat word om krag tot die netwerk by te dra, en munisipaliteite moet nie verantwoordelik wees vir die verskaffing van krag nie.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die LUR vir Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het die Prokureurs in Polisiestasies-projek formeel van stapel gestuur. Dis ‘n vennootskap met die polisie en ‘n internasionale organisasie teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad. Regslui sal by polisiestasies ontplooi word om geregsdienaars te help met onder meer die voorbereiding van dossiere, terwyl die polisie steeds ondersoeke beheer. Winde se woordvoerder, Regan Thaw, sê doeltreffende wetstoepassing begin op stasievlak:
# Tennis: Die voormalige Amerikaanse Ope-enkelspelkampioene Venus Williams en Sloane Stephens is promotorskeuses vir vanjaar se toernooi. Hulle sluit aan by vyf ander spelers, insluitend hul Amerikaanse landgenote Carol Young Suh Lee, Reese Brantmeier en Thea Frodin. Die Amerikaanse Tennisvereniging het nog ‘n plek teruggehou, moontlik vir die sesmalige kampioen, Serena Williams. Die Fransman Gael Monfils en die Australiër Alexei Popyrin is promotorskeuses in die mans-enkelspel se hooftrekking. Die toernooi begin die 30ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-335-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-368-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….