Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Taxiverenigings het nog nie besluit oor pendeltariefverhogings nie
# Die enigste oorlewende van die busongeluk in Limpopo sal na verwagting binnekort uit die hospitaal ontslaan word
# En, krieket: Ondersteuners van Mumbai verwyt die nuwe kaptein, Hardik Pandya, vir die swak vertonings in die IPL
# Taxiverenigings het nog nie besluit oor die moontlike verhoging van pendeltariewe nie te midde van ‘n brandstofprysverhoging. Die Departement van Minerale Bronne en Energie het stygings van 65-sent per liter vir 93-oktaan loodvrye petrol, en 67-sent vir 95-oktaan aangekondig. Die Nasionale Taxi-alliansie verklaar hoewel hulle kennis neem van die stygings was daar nog nie binne die bedryf enige raadpleging oor tariefverhogings nie. Intussen het ʼn woordvoerder van Santaco, Rebecca Pala, voorgestel indien daar tariefverhogings moet wees, dit binne redelike perke moet bly:
# Limpopo se LUR vir Gesondheid, Phophi Ramathuba, vertrou dat die enigste oorlewende van die naweek se dodelike busongeluk binnekort uit die hospitaal ontslaan sal word. Die agtjarige Lorraine Atlang Siako, wat ná die ongeluk in die Mokopane-hospitaal opgeneem is, het geheueverlies en moontlike sielkundige trauma opgedoen. Die bus het lede van die Zion Christian Church na Moria vervoer vir ‘n Paasfees-pelgrimstog. Ramathuba het bevestig Lorraine sal na haar ontslag aan Botswana se Gesondheidsdepartement oorhandig word, met die klem op volgehoue ondersteuning vir haar herstel.
# Vrystaatse boere pleit by die regering om die voortgesette droogte tot ‘n ramp te verklaar om verliese tydens die droë seisoen te versag. Die boerderygemeenskap beklemtoon die bedreiging van voedselsekerheid weens die ernstige uitwerking van die droogte. Met stygende verbruikerspryse is boere besorg nog prysverhogings gaan die uitwerking van die droogte vererger. ʼn Woordvoerder van die provinsiale Departement van Landbou, Zimasa Leputla, bevestig die situasie word geëvalueer:
# Krieket: Ondersteuners verwyt die nuwe kaptein van die Mumbai Indians, Hardik Pandya, vir die span se swak vertonings in vanjaar se Indiese Premierliga. Die span is onderaan die punteleer nadat hulle tot dusver al drie wedstryde verloor het. Pandya het die gewilde kaptein van Indië, Rohit Sharma, as kaptein van Mumbai vervang na sy terugkeer van Gujarat Titans. Sharma het Mumbai aangevoer met al vyf sy IPL-titels. Die span se volgende kragmeting is Sondag met die Delhi Capitals wat tans in die sewende plek is, nadat hulle twee van hulle drie wedstryde verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-987-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-260-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-88-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Navorsers van die Universiteit van Pretoria en die WNNR werk saam aan ‘n projek om aanlyn fopnuus tydens die verkiesing op te spoor en uit te wys. Suid-Afrikaners gaan op 29 Mei stembus toe. Die projek behels die gebruik van kunsmatige intelligensie om patrone te ontleed en fopnuus te identifiseer, en fokus ook op deurlopende inligtingversameling om aan te pas by ontwikkelende waninligtings-taktieke. Professor Vukosi Marivate van die universiteit sê die uitwerking van waninligting en fopnuus tydens die verkiesing hou ‘n beduidende bedreiging in vir maatskaplike samehorigheid en vertroue.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….