Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika laat vaar die spertyd vir die verskuiwing van Taiwan se kantoor in Pretoria
# Die minister van Elektrisiteit bevestig 1,7-miljoen kliënte het die sperdatum vir die opgradering van voorafbetaalde meters misgeloop
# En, krieket: Ben Stokes onttrek aan die IPL om sy loopbaan vir Engeland te verleng
# Suid-Afrika het volgens berigte sy spertyd van 30 Oktober vir die verskuiwing van Taiwan se kantoor in Pretoria laat vaar terwyl samesprekings oor toekomstige bilaterale betrekkinge voortduur. Die regering het verlede maand geëis dat Taiwan sy verteenwoordigende kantoor uit Pretoria verskuif, na bewering weens druk van China. Taiwan het egter geweier op grond van ‘n ooreenkoms wat die twee lande in 1997 onderteken het, voor die beëindiging van amptelike diplomatieke betrekkinge in Januarie 1998. Amerika, Brittanje en Japan het steun vir Taiwan uitgespreek.
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor verwag die koste van die instelling van die tweepot-aftreestelsel sal jaarliks met 300-miljoen-rand styg. Die koste beloop reeds 1,6-miljard-rand sedert die instelling op 1 September, insluitend uitgawes vir bykomende personeel, kommunikasie en nuwe oproepsentrums. Die adjunkkommissaris van die owerheid, Astrid Ludin, het aan die Parlement se staande komitee oor Finansies verduidelik die grootste uitgawes was vir veranderings aan die stelsel en kommunikasie met lede ter ondersteuning van die nuwe stelsel:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het onthul 1,7-miljoen kliënte het nie teen Sondag se sperdatum hul voorafbetaalde meters opgradeer nie. Hy het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie gesê dit veroorsaak die gevaar dat Eskom maandeliks twee-miljard-rand aan inkomste kan verloor. Ramokgopa beklemtoon die opgraderings is daarop gemik om die diefstal van elektrisiteit te bekamp. Hy sê pogings is aan die gang om kliënte wat ter sprake is, weer aan boord te kry:
# Die Gautengse regering het weer meer as 200-miljoen-rand se befondsing aan organisasies sonder winsbejag beskikbaar gestel. Dit volg ná ‘n befondsingskrisis vroeër vanjaar wat veroorsaak het dat talle NPO’s bedrywighede moes afskaal of selfs hul deure moes sluit. Gauteng se LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het bevestig dat die besnoeiings wat aan begrotingskwessies toegeskryf is, nou hanteer is. Hy sê die geld sal uit die provinsiale inkomstefonds verkry word wat bedoel is om die sektor vir maatskaplike ontwikkeling te ondersteun.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, het besluit om nie in volgende jaar se Indiese Premierliga te speel nie in ‘n poging om sy internasionale loopbaan te verleng. Sy span speel van môre teen Nieu-Seeland in die eerste toets in Christchurch. Stokes se besluit om nie aan die IPL-veiling deel te neem nie, kan kragtens nuwe reëls lei tot ‘n skorsing van twee seisoene. Die 33-jarige sê egter hy wil so lank as moontlik vir Engeland speel. Stokes het ses-duisend-561 lopies aangeteken in sy 107 toetse sedert 2011.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-547-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-648-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….