Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF meen die Parlement het onwettig opgetree in die Phala Phala-saak
# Cosatu sê kindersterftes weens besmette voedsel word ’n weeklikse gebeurtenis
# En gholf: Scheffler, Schauffele en McIlroy word benoem as die PGA-toer se Speler van die Jaar
# Die EFF beskuldig die Parlement dat hy onregmatig opgetree het deur die onafhanklike paneel se aanbeveling te verwerp, om president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-skandaal te ondersoek. EFF-lede het by die Mary Fitzgerald-plein byeengekom vir ‘n optog na die Konstitusionele Hof in Johannesburg waar die party die besluit uitdaag. Die EFF se regsverteenwoordiger, Kameel Premhid, het aan die hof gesê die verslag het bewyse gevind wat daarop dui dat Ramaphosa antwoorde moet gee oor die miljoene dollar wat op sy plaas gesteel is:
# Cosatu vra dat kinders beskerm word teen voedselvergiftiging. Meer as 20 kinders is dood nadat hulle kos geëet het wat by spazawinkels gekoop is. In die jongste voorval is ‘n agtjarige meisie van Soweto dood. Byna 900 gevalle van voedseloordraagbare siektes is landwyd aangemeld. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê dis onaanvaarbaar dat daar nou weekliks kinders sterf nadat hulle besmette kos geëet het:
Die Stad Tshwane het intussen sy rampbedryfsentrum geaktiveer na aanleiding van die toename in voedseloordraagbare siektes wat met spazawinkels verbind word. Die sentrum funksioneer op Vlak 2, wat dit moontlik maak dat talle sektore die krisis doeltreffend kan bestuur en bekamp. Die metro sê die sentrum sal vinnige reaksie verseker om spazawinkels te inspekteer, beslag te lê op gevaarlike stowwe, en die nakoming van munisipale gesondheids- en veiligheidsregulasies af te dwing.
# Gholf: Scottie Scheffler en Xander Schauffele van Amerika en Rory McIlroy van Noord-Ierland gaan sake uitspook om as die PGA-toer se Speler van die Jaar aangewys te word. Onder die benoemdes vir die PGA se Nuweling van die Jaar is die Amerikaners Nick Dunlap, Jake Knapp en Max Greyserman, en die Fransman Matthieu Pavon. Lede van die PGA-toer gaan stem vir die ontvanger van die Jack Nicklaus-toekenning vir beste speler en die Arnold Palmer-toekenning vir Nuweling van die Jaar. Die wenners word einde vanjaar aangewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-14-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-628-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Disney se jongste passasiersboot, die Treasure, stel ‘n aantal nuwe elemente bekend te midde van ‘n skerp toename in belangstelling in bootvaarte.. Die Cruise Lines International Association berig dat 31,7-miljoen passasiers verlede jaar op bootvaarte gegaan het, wat sewe persent meer is as in 2019, kort voor die Covid-19-pandemie. Disney-aanhangers kan lafenis vind in die eerste kroeg ooit met ‘n Disney-tema, The Haunted Mansion, terwyl die sitkamer ‘n akwarium met ‘n spesiale effek het. Die Treasure sal volgende maand op sy nooiensvaart vertrek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….