Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Pretoria High School for Girls se beheerliggaam eis die volledige verslag oor beweerde rassisme
# Die Gedragsowerheid kyk na hoë transaksiekoste met die tweepot-aftreestelsel
# En, swem: Australië se mees bekroonde Olimpiese atleet Emma McKeon tree uit
# Die Pretoria High School for Girls doen regstappe om die Gautengse Onderwysdepartement te verplig om sy volledige verslag oor beweerde rassisme te publiseer. Bewerings sluit in ‘n WhatsApp-groep net vir wittes en wit onderwysers wat hulle swart kollegas ignoreer. Die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Craig Hezlett, beskryf die opsomming van die verslag as ʼn heksejag. Hy het aan Newzroom Afrika gesê die verslag kon geen bewerings van rassisme bewys nie:
Die Gautengse Onderwysdepartement het bendebedrywighede en afknouery intussen uitgewys as die sleutelbedreigings vir leerderveiligheid. Die LUR, Matome Chiloane, het ‘n skoolveiligheids-imbizo gehou in Tsakane, Ekurhuleni. Altesaam 245 skole is as hoë risiko uitgewys wat veiligheid en geweld betref. Chiloane sê die verhoogde vlak van skoolbakleiery tussen leerders is ook kommerwekkend:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor kyk na hoё transaksiekostes met die tweepot-aftreestelsel waar fooie gemiddeld 357-rand is vir 30-duisend-rand. Die owerheid dring aan op deursigtigheid en billikheid deur fondsadministrateurs. Moneyweb berig die owerheid wys op vertragings met uitbetalings, swak kommunikasie en swakhede in die stelsel sedert dit in September begin het. Daarbenewens skuld sewe-duisend-700 werkgewers 5,2-miljard-rand in pensioenbydraes, wat 310-duisend werkers raak met munisipaliteite en die privaat sekerheidsektor die groot sondaars.
# Duisende betogers ruk op na Pakistan se hoofstad, Islamabad, as deel van landwye betogings om die voormalige eerste minister, Imran Khan, se vrylating te eis. Die versetoptrede volg na ‘n beroep deur Khan aan sy ondersteuners. Die 72-jarige dien drie-jaar tronkstraf uit vir korrupsie, maar hou vol hy is onskuldig. Owerhede het toegang tot die hoofstad gesluit, snelweë versper en in sekere gebiede is mobiele en internetdienste opgeskort. Die optog het gister begin, en Khan se vrou en voormalige presidentsvrou, Bushra Bibi, is van die organiseerders van die saamtrekke.
# Swem: Australië se mees bekroonde Olimpiese atleet, Emma McKeon, het haar uittrede aangekondig en sê sy is reg om met die volgende hoofstuk in haar lewe te begin. Die 30-jarige het 14 Olimpiese medaljes gewen – ses van hulle goud – op die Speles in Rio, Tokio en Parys. Sy is ook ‘n agtmalige wêreldrekordhouer. Die uitvoerende hoof van Swem Australië, Rob Woodhouse, sê McKeon sal onthou word vir hoe sy swem verteenwoordig het omdat die standaarde wat sy gestel het sonder weerga is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-646-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-670-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….