Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ouditeur-generaal wys Projek Thusano van twee-miljard-rand uit vir ongeakkrediteerde Kubaanse opleiding
# Rugby: Vier lede van Australië A word opgeroep na die Wallabie-kamp voor die toetse teen Skotland en Ierland
# En, ‘n marmerborsbeeld wat as deurstopper gebruik is, kan vir meer as 500-miljoen-rand verkoop word
# Die Ouditeur-Generaal het ‘n ooreenkoms van twee-miljard-rand tussen Suid-Afrika en Kuba, Projek Thusano, uitgewys vir swak uitkomste. Die projek sou 108 studente in mediese beroepe oplei. Die kwalifikasies in die program word egter nie in Suid-Afrika geakkrediteer nie en studente is gevolglik werkloos. Volgens News24 het slegs 28,57-persent van die eerste groep hul integrasiekursus geslaag, en afgestudeerdes in bio-mediese ingenieurswese kan nie plaaslik registreer nie. Aanbevelings sluit in hersiening van akkreditasie en samewerking met die Departement van Gesondheid om die waarde van opleiding te verseker.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa versoek die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om in te gryp met die krisis by die Padongelukkefonds. Bates ter waarde van 18-miljoen-rand word na verwagting op 5 Desember opgeveil weens wanadministrasie. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, voer aan swak bestuur het tot haglike werksomstandighede en dataskendings gelei. Sy sê daadwerklike optrede is nodig om bestendigheid en aanspreeklikheid te herstel:
# Statistieke Suid-Afrika het bekendgemaak verbruikersinflasie het in Oktober tot 2,8-persent gedaal, die laagste vlak sedert Junie 2020. Dit verteenwoordig ’n beduidende afname teenoor 3,8-persent in September, wat hoofsaaklik aangevuur is deur ’n skerp maand-tot-maand afname in brandstofpryse. Voedselinflasie het ook tot die laagste vlak sedert 2019 gedaal, en die prys van mieliemeel, brood en suiwelprodukte het gedaal. Woordvoerder Ricado Johnson sê kategorieë soos suiker en drank het geringe prysstygings getoon:
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het vier lede van Australië A se groep na die toetskamp opgeroep voor die toetse teen Skotland en Ierland. Hamish Stewart, Darby Lancaster, Tom Hooper en Harry Hoopert toer tans saam met die A-span in Brittanje. Hulle is betrek weens beserings, terwyl ander spelers onbeskikbaar kan wees omdat die kragmeting met Ierland op die 30ste buite die toetsvenster val. Agsteman Harry Wilson behoort terug te wees nadat hy die wedstryd teen Wallis misgeloop het weens harsingskudding.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-483-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-623-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die Bouchardon-borsbeeld wat vroeg in die 18de eeu deur die Franse beeldhouer Edmé Bouchardon geskep is, kan in ‘n private transaksie vir meer as 578-miljoen-rand verkoop word. Die borsbeeld is van die Skotse grondbaron en politikus John Gordon. Die dorpsraad van Invergordon in Skotland het die beeld teen ongeveer 1930 gekoop, waarna dit verlê is. Dit is in 1998 weer gevind waar dit in ‘n nywerheidspark gebruik is om ‘n deur oop te hou. Die marmerbeeld is tot onlangs aan die Louvre in Parys en die Getty-museum in Los Angeles geleen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….