Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Veetienjarige leerder is dood en twee gewond in ‘n skietery in Elsiesrivier, Kaapstad
# Putin onderteken ‘n bevel wat die wyer gebruik van kernwapens toelaat
# En, krieket: Temba Bavuma keer terug van ‘n besering om die Proteas te lei in twee toetse teen Sri Lanka
# ‘n Veertienjarige leerder van die Hoërskool Ravensmead in Elsiesrivier, Kaapstad, is op pad skool toe doodgeskiet. Volgens News24 is twee ander slagoffers van 15 en 17 hospitaal toe geneem. Gewapende mans het glo in Donnegal-laan uit ‘n voertuig geklim en losgebrand voor hulle na die terrein van die Hoër Tegniese Skool St Andrew’s gevlug het. Dit het paniek gesaai en nabygeleë skole is gesluit. Ouers het hul kinders gaan haal namate kommer oor veiligheid toegeneem het. Die Wes-Kaapse polisie het sekerheidsmaatreëls verhoog en ondersoek die aanval.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap ervaar tans hoë vlakke van boubedryf-misdaad en afpersing. Mchunu het op die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur se nasionale bouberaad in Durban gesê hierdie provinsies ervaar beduidende misdadige bedrywighede, insluitend dreigemente, intimidasie en gewelddadige ontwrigtings, wat die vordering van uiters belangrike infrastruktuurprojekte belemmer:
# City Power sê hy het ‘n voltooiingsyfer van 99-persent bereik met die opgradering van voorafbetaalde kragmeters in sy verskaffingsgebiede in Johannesburg. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê hulle het meer werknemers ontplooi om te verseker hulle bereik die uitstaande verbruikers. Hy sê daar is ook toegewyde spanne wat oudits uitvoer en bykomende ondersteuning aan kliënte bied om die herkoderingsproses te bespoedig:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het ‘n bevel uitgevaardig wat Moskou toelaat om kernwapens teen ‘n nie-kernstaat te gebruik indien dit deur kernmagte ondersteun word. Dit kom op die duisendste dag van Rusland se aanslag op Oekraïne en nadat Amerika Kiëf toestemming gegee het om langafstandmissiele te gebruik teen militêre teikens binne Rusland. Die verandering plaas die fokus op ander bondgenote wat Oekraïne van langafstandmissiele voorsien, veral Brittanje en Frankryk. Die Duitse kanselier, Olaf Scholz, het herbevestig sy land se gesofistikeerde missiele sal nie aan Oekraïne verskaf word nie.
# Krieket: Kaptein Temba Bavuma keer terug vir Suid-Afrika se reeks van twee toetse teen Sri Lanka nadat ‘n besering hom uitgehou het uit die toetsreeks in Bangladesj. Die veelsydige Marco Jansen en die snelbouler Gerald Coetzee is terug in toetskrieket die eerste keer sedert verlede seisoen se reeks teen Indië. Kagiso Rabada, Dane Paterson en Wiaan Mulder is die ander snelboulers, en Keshav Maharaj en Senuran Muthusamy die draaiboulers. Die reeks begin die 27ste in Durban, gevolg deur die toets in Gqeberha vanaf 5 Desember.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-686-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-634-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….