Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie meld ‘n toename aan in agtergrondondersoeke vir senior amptenare in die staatsdiens
# Boks: Mike Tyson word gekritiseer omdat hy op 58 weer in die kryt klim
# En rotte word opgelei om smokkelgoedere uit te snuffel
# Die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, is besorg oor vertragings met die agtergrondondersoeke na senior regeringsamptenare, ondanks verbeterings. Hy het tydens ‘n inligtingsvergadering erken die huidige proses sukkel met ‘n agterstand, ʼn tekort aan hulpbronne en vakante poste, en bevestig nie alle senior amptenare word ondersoek voor hulle in kritieke poste begin werk nie. Daar word gepoog om die stelsel te verbeter, maar Zibi beklemtoon die behoefte aan strenger toesig:
# Die Tesourie stel ‘n minimumprys vir alkoholiese drank en veranderinge aan die belastingraamwerk vir aksyns voor. Volgens die nuwe reëls sal daar aanpassings wees in die aksynstariefkoers, na gelang van verwagte inflasie en bepaalde belastingsgrense vir wyn en bier, volgens die alkoholinhoud. Die Tesourie sê hierdie voorstelle sal die gebruik van alkohol en verwante skade beperk, ooreenkomstig die aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Openbare kommentaar kan tot 13 Desember ingedien word.
# Die Streekhof in Griekwastad in die Noord-Kaap het twee mans gevonnis tot 15-jaar tronkstraf elk vir die roof en aanranding van ‘n 66-jarige boer in 2020. Richard Langeveld, Sam Mahlangu en hul medepligtiges het die boer met ‘n warm strykyster gemartel en sy voertuig gesteel. Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnis as ‘n goeie afskrikmiddel teen geweldsmisdaad.
# Boks: Die gewese swaargewig-wêreldkampioen, Mike Tyson, word gekritiseer omdat hy op 58 weer na die kryt terugkeer. Die Amerikaner veg môre teen die 27-jarige Youtuber, Jake Paul, in ʼn Netflix-ondersteunde geleentheid in Arlington, Texas. Hulle pak mekaar in agt rondes van twee minute elk. Tyson het in 2005 laas as beroepsbokser geveg. Kritici beskryf die geveg as ʼn grieselrige sirkus wat onaanvaarbare risiko’s inhou vir Tyson, wat volgens berigte meer as 365-miljoen-rand sal ontvang. Paul sê hy gaan nie terughou nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-266-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-541-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe geslag grenspatrollie-opspoorders kan binnekort in Afrika se hawens begin werk en onwettig gesmokkelde goedere uitsnuffel. Die Afrika reuse-buidelrot is opgelei om ietermagog-skubbe, ivoor, renosterhoring en ander items van bedreigde spesies uit te ken. Hulle word in Tanzanië opgelei deur ‘n organisasie sonder winsbejag wat reuk-opsporingsdiere ontplooi. Die diere het ‘n ongelooflike reuksintuig, is rats en relatief goedkoop om te versorg, vergeleke met honde wat gewoonlik gebruik word. Die groep lei reeds rotte op om landmyne uit te snuffel en tuberkulose op te spoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….