Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Watertekorte stop fisiese verhore in die Konstitusionele Hof
# Twee stralers van Amerikaanse lugdienste word deur geweervuur getref oor Haïti
# En, krieket: Pakistan bevestig Indië gaan nie deelneem nie aan die Kampioenetrofee-toernooi in die land
# Die Konstitusionele Hof in Johannesburg het fisiese verhore opgeskort weens die onbetroubare watertoevoer wat sedert 1 November sy bedrywighede raak. Volgens die hof is die lekkasies in die gebou se waterstelsel herstel, maar daar is geen waarborg oor die Stad Johannesburg se daaglikse hervulling nie, en die rugsteunwatertenk hou slegs ‘n dag. Die kantoor van die hoofregter sê daar is deurlopende samesprekings met stadsowerhede en Rand Water om die kwessie spoedig op te los.
AfriForum eis intusssen die Stad Johannesburg moet begin om waterlekplekke te herstel en voortdurend die waternetwerk onderhou. In 2023/’24 het die metro 46,2-persent van die watervoorraad geklassifiseer as nie-inkomste, wat beteken dit gaan verlore weens lekkasies of daar word nie daarvoor betaal nie. Johannesburg Water wil waterverbruik verminder tot 175-liter per persoon per dag. Lambert de Klerk van AfriForum sê die waterkrisis is die gevolg van die ANC se swak munisipale en provinsiale bestuur:
# Die DA versoek die verwydering van die hoof van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Lesiba Malotana. Dit volg ná ‘n ondersoek oor twee tenders, wat verband hou met beweerde omkoopgeld ter waarde van meer as 10-miljoen-rand. Die ondersoek het op kontrakte vir mediese voorraad en toerusting gefokus en Malotana word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld bemiddel het. Die DA-lid, Jack Bloom, eis nuwe bestuur sodat korrupsie en ondoeltreffendheid aangepak kan word:
# Twee stralers van Amerikaanse lugdienste is deur geweervuur getref terwyl hulle oor die hoofstad van Haïti, Port-au-Prince, gevlieg het. Owerhede in Haïti het daarna alle vlugte na en van die hoofstad opgeskort weens toenemende bendegeweld. Die land se burgerlugvaartowerheid het vlugpersoneel later in kennis gestel alle lugverkeersbedrywighede word opgeskort. Haïti gaan reeds bykans ‘n jaar lank gebuk onder wydverspreide bendebedrywighede en politieke chaos. Gekoördineerde bende-aanvalle het vroeër vanjaar gelei tot die sluiting van die lughawe en die belangrikste hawe in die hoofstad.
# Krieket: Pakistan het aangekondig Indië gaan nie deelneem aan die Internasionale Krieketraad se Kampioenetrofee-toernooi wat in Februarie en Maart in die land plaasvind nie. Dit sal die eerste keer in byna 30 jaar wees dat Pakistan ‘n internasionale toernooi aanbied. Indië se besluit word toegeskryf aan die voortgesette politieke spanning tussen die twee buurlande. Die IKR moet nog op die aankondiging reageer. Die toernooi behels die gasheerland en die sewe beste lande in die groepsfase van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in ‘n 50-boulbeurt-formaat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-884-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-591-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….