Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier veroordeel staatsbeheer in onderwys tydens die BELA Wet-betoging in Pretoria
# Groot waterinfrastruktuurprojekte is onderweg om watervoorsiening te verseker
# En, atletiek: Die Wêreld-atleet van die jaar se finaliste word aangekondig
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het tydens ‘n betoging in Pretoria sterk teenkanting teen klousules vier en vyf van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette uitgespreek. Hy waarsku indien onderrig nie in ‘n moedertaal ontvang word nie, kan leerders se begrip van vakke soos wiskunde en wetenskap benadeel word. Steenhuisen het betogers toegespreek by die Voortrekkermonument en gevra vir plaaslike beheer in skole en ‘n fokus op die verbetering van onderwysstandaarde. Hy sê Suid-Afrika se toekoms is in die hande van ‘n goed opgeleide jeug:
# Die Departement van Water en Sanitasie, in samewerking met die Trans-Caledon-tonnelowerheid, is besig met 14 grootskaalse waterinfrastruktuurprojekte ter waarde van 100-miljard-rand. Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê belangrike projekte sluit in die Lesotho Hoogland-waterprojek van 42-miljard-rand en die uMkhomazi-dam van 28-miljard-rand. Sy sê die sluiting van die Lesotho Hoogland-tonnel sal ook voldoende waterberging vir munisipaliteite verseker:
# Die GOOD-party sê dit is onaanvaarbaar dat die Stad Kaapstad 30-miljoen-liter rou, onbehandelde riool aan die Atlantiese kus laat uitloop. Inspeksies van die metro se water- en sanitasiegeriewe vroeër vanjaar het beduidende oortredings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid getoon, waarna kennisgewings van nie-nakoming uitgereik is. Suzette Little van GOOD sê skoon oudits kan nie die vrot stank van die metro toesmeer wat die toelaatbare rioolvlakke in die see oorskry nie:
# Suid-Afrikaners in Amerika is bekommerd oor die uitwerking van ‘n moontlike Donald Trump-presidentskap op pro-Palestynse nasies. Peilings dui aan die voortslepende Gaza-konflik het oorwegend Moslem-kiesers van beide Trump en die Demokratiese kandidaat, Kamala Harris, vervreem, met van hulle wat alternatiewe soos die Groen-party oorweeg. Sommige Suid-Afrikaners meen Harris is dalk minder skadelik vir Palestina as wat Trump is. Vrese bestaan dat Trump se herverkiesing spanning sal vererger met lande soos Suid-Afrika, wat Palestynse regte ondersteun.
# Atletiek: Wêreld-atletiek het die finaliste aangekondig in elkeen van sy ses kategorieë vir Atleet van die Jaar. Botswana se Olimpiese kampioen in die 200-meter, Letsile Tebogo, is in die mans se baanatleet-kategorie benoem saam met Jakob Ingebrigtsen van Noorweë. Benoemings in die vrouekategorie sluit in die Olimpiese gouemedaljewenner in die 100-meter, Julien Alfred van Sint Lucia, en die Amerikaanse Olimpiese kampioen in die 400-meter-hekkies, Sydney McLaughlin-Levrone. Die wêreldrekordhouer in die marathon, Ruth Chepngetich van Kenia, ding mee in die kategorie vir buite-stadion-atleet van die jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-759-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….