Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie gaan fiskale ankerbeleidsmoontlikhede teen Maart 2025 vrystel
# Die Padvragvereniging sê die minibegroting pak nie uitdagings by hawens aan nie
# En, sokker: Uefa belê meer as 19-miljard-rand in die vrouespel
# Die Nasionale Tesourie ontwikkel ‘n fiskale anker om skuld bestendig te maak en vol te hou met fiskale beleid, danksy insette van akademici en internasionale kundiges. ‘n Besprekingsdokument moet teen Maart voorgelê word. Die Tesourie sê wetsveranderinge word ook oorweeg om volhoubaarheid van skuld in die begroting vas te lê. Die Tesourie neem kennis staatskuld is nou hoёr op 5,26-duisend-miljard-rand wat 21,6 persent opslurp. Dus word 22-sent uit elke een rand aan skuld bestee. Die Tesourie verwag ‘n langtermyn-raamwerk om Suid-Afrika se uitdagende fiskale posisie aan te pak.
# Die Padvragvereniging sê daar is geen melding gemaak van enige onmiddellike optrede om die toerusting by hawens te verbeter in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se minibegroting nie. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê hierdie situasie verlam bedrywighede. Hy sê daar is ook nie verwys na sleutelinfrastruktuur om te verseker dat grootmaat-gebruiksgoedere per trein vervoer word nie :
# Die DA versoek Eskom om sy duur regsgeding teen die Nasionale Energiereguleerder oor die uitreiking van nuwe elektrisiteitsverhandelingslisensies in Eskom se diensgebied, te laat vaar. Die DA-lid, Kevin Mileham, sê hierdie saak veroorsaak nie net afleiding van die kragvoorsiener se grootste verantwoordelikheid, om betroubare elektrisiteit aan Suid-Afrikaners te lewer nie, maar is ook teenstrydig met die gees en doelwitte van die Wet op Elektrisiteitsregulering wat mededinging uitdruklik aanmoedig:
# Media24 sluit belangrike gedrukte uitgawes nadat die Mededingingskommissie toestemming verleen het vir die verkoop van On the Dot, Soccer Laduma en ander bates aan Novus Holdings. Die gedrukte uitgawes van Beeld, Rapport, City Press en Daily Sun word teen 31 Desember gestaak en sommige titels verskuif eksklusief aanlyn. Die tussentydse uitvoerende hoof, Raj Lalbahadur, beklemtoon Media24 se verbintenis tot volhoubare digitale joernalistiek te midde van veranderende verbruikersneigings. Daar is aanvanklik beplan vir die verlies van 400 poste, maar die besnoeiing van redaksionele personeel is later laat vaar.
# Sokker: Die Europese beheerliggaam, Uefa, het meer as 19-miljard-rand beloof om die vrouespel die volgende ses jaar op die vasteland te ontwikkel. Die geld kom van kompetisie-inkomste en beleggings. Uefa sê dit sal gaan aan klubs, nasionale spanne, senior en jeug-kompetisies met die doel om teen 2030 vyf-duisend beroepspelers en ses beroepsligas te hê. Reuters berig die besturende direkteur vir vroue-sokker, Nadine Kessler, sê die vrouespel het ‘n sport vir die massas geword wat ‘n immergroeiende en uiteenlopende aanhangergroep lok.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-408-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-774-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….