Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gauetng se premier kondig nuwe watersekerheidsmaatreëls aan
# ‘n AbaThembu-hoof word vermoor en vyf matriekleerders verkrag in die Oos-Kaap
# En, krieket: Die Proteas verklaar op 575 vir ses na drie honderdtalle in die eerste beurt teen Bangladesj
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê nuwe watersekerheidsmaatreëls is ingestel om waterkwessies in die provinsie aan te pak. Die plan sal fokus op die opgradering van infrastruktuur, die verbetering van waterbestuur en hulpbron-monitering. Lesufi het op ‘n nuuskonferensie gesê die provinsiale regering poog om water-beskikbaarheid te verseker en dienslewering te verbeter omdat die provinsie die groeiende aanvraag weens bevolkingsgroei en klimaatsverandering probeer hanteer:
# Die Oos-Kaapse polisie soek na verdagtes wat betrokke was by die noodlottige skietery van die AbaThembu-hoof, inNkosi Nogcinile Mtirara, by die Mqhekezweni Groot Plek in Mthatha. Die motief vir die skietery is nog onbekend. In nog ’n voorval is vyf matriekleerders in Bityi, Mthatha, verkrag. Polisiewoordvoerder Siphokazi Mawisa sê hulle het in ‘n huurhuis gebly terwyl hulle vir hul eksamen voorberei toe hulle aangerand is:
# China het beperkings veroordeel wat Amerika vasgestel het oor belegging in sensitiewe tegnologie en bygevoeg hy hou die reg voor om sy eie maatreëls in te stel. Die nuwe reëls wat deur die Tesourie aangekondig is, sal maatskappye, burgers en permanente inwoners van Amerika verbied om nuwe tegnologie-transaksies met China aan te gaan. Ingevolge ‘n uitvoerende bevel deur die Amerikaanse president, Joe Biden, in Augustus, sal die beperkings op 2 Januarie in werking tree. Die beperkings is gemik op beleggings rondom halfgeleiers, kunsmatige intelligensie en kwantum-rekenaarwetenskap.
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Aiden Markram, het verklaar op 575 vir ses nadat die besoekers drie honderdtalle aangeteken het in die eerste beurt van die tweede toets teen Bangladesj in Chattogram. Wiaan Mulder het sy eerste honderdtal op die tweede middag behaal nadat Tony de Zorzi 177 bygedra het en Tristan Stubbs 106. Mulder en Senuran Muthusamy het ’n onoorwonne vennootskap van 152 lopies om die sewende paaltjie behaal met Muthusamy se bydrae 70. Taijul Islam het vyf paaltjies geneem. Bangladesh het teen uitskeityd gesteier op 38 vir vier.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-508-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-785-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Farmaseutiese afval wat in munisipale afvalwater opgespoor is, hou ʼn aansienlike gevaar in vir openbare gesondheid. Dié waarskuwing kom van die Suid-Afrikaanse Aptekersvereniging se adjunkpresident en professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Renier Coetzee. Hy stel voor dat mense die programme by apteke gebruik om medisyne terug te gee eerder as om dit in toilette of wasbakke af te spoel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….