Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO vra ‘n verbod op privaat befondsing vir politieke partye
# Gholf: Louis Oosthuizen sal sy titel verdedig in die Alfred Dunhill-kampioenskap
# En ‘n bende-magstryd vererger die oplewing van geweld in Kaapstad
# Die Azanian People’s Organisation vra ‘n eenkamer-parlement en ‘n verbod op private skenkings aan politieke partye. Woordvoerder Jabu Rakwena sê die Raadplegingspaneel vir Verkiesingshervormings is tot stand gebring om kieswette te hersien in ooreenstemming met die Konstitusionele Hof se uitspraak wat die instelling van onafhanklike kandidate magtig. Hy sê die publiek moet voor Donderdag se afsnydatum kommentaar indien:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, vra die regering om voorrang te gee aan onderwysbefondsing terwyl die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sy mediumtermynbegroting voorberei. Gwarube waarsku voorgestelde begrotingsbesnoeiings kan veroorsaak dat twee-duisend-400 onderwysposte in 2025 in die Wes-Kaap verlore gaan en die gehalte van onderwys bedreig. Sy het ook LUR’e gevra om verkwistende uitgawes te beperk en hul onderwysverpligtinge na te kom:
# ‘n Geskil het ontstaan tussen die gasvervaardiger Renergen en die SOLA-groep wat aan Patrice Motsepe behoort, oor grondregte in die Vrystaat. Renergen beweer hy is nie geraadpleeg voor bouwerk aan SOLA se 150 megawatt-sonkragprojek begin het nie en beweer ‘n skending van petroleumproduksieregte. SOLA sê alle goedkeurings is verkry en hy beskuldig Renergen van die wanvoorstelling van sy helium-eise. Regsgeskille is tans aan die gang met beide partye wat hulle belange verdedig.
# Gholf: Die voormalige Major-kampioen, Louis Oosthuizen, gaan probeer om slegs die derde speler in die geskiedenis van die Alfred Dunhill-kampioenskap te word wat sy titel suksesvol verdedig wanneer hy van 12 tot 15 Desember na Leopard Creek terugkeer. Oosthuizen het sy plek bevestig in hierdie toernooi wat gesamentlik deur die Sonskyntoer en DP World-toer erken word. Thriston Lawrence, tans Suid-Afrika se beste gekeurde speler in die 50ste plek, Christiaan Bezuidenhout, wenner van 2020 se Alfred Dunhill-kampioenskap, asook Erik van Rooyen en Dean Burmester sal op Leopard Creek deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-132-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-755-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad worstel met ‘n oplewing in bendegeweld namate verskuiwende bende-lojaliteite die magstryd in die misdaadwêreld vererger. Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, skryf die botsings toe aan die onlangse inhegtenisneming van bendeleiers, wat konflik onder mededingende faksies ontketen het, veral tussen die 28’s en die Fancy Boys. Hoëprofielmoorde en massaskieterye in Bishop Lavis en Atlantis het vrees in die gemeenskap laat opvlam. Patekile beklemtoon daar is toenemende afpersingsgeweld in Khayelitsha, Mfuleni en Gugulethu en vra inwoners om afpersing veilig aan te meld, terwyl bendes veg vir beheer oor winsgewende beskermingsfooie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….