Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid ondersteun NATJOINTS se standpunt oor voedselvergiftiging as sekerheidsbedreiging
# Cosatu versoek Johannesburg se burgemeester om Gwamanda af te dank na sy inhegtenisneming vir bedrog
# En, sokker: Ronwen Williams word benoem vir drie CAF-toekennings
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, ondersteun die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur se standpunt wat voedselvergiftiging as ‘n nasionale sekerheidsbedreiging klassifiseer. Dit volg op verskeie voorvalle in ‘n aantal provinsies. In die mees onlangse geval is 24 leerders van Enzani Primary in Matsulu, Mpumalanga, hospitaal toe gehaas weens vermeende voedselvergiftiging. Motsoaledi het aan die SABC gesê die owerhede, insluitend die Departement van Landbou, ondersoek die voorvalle:
# Cosatu in Gauteng vra Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, om die skorsing van die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling, Kabelo Gwamanda, te heroorweeg. Hulle is van mening Gwamanda se situasie regverdig onmiddellike afdanking nadat hy in hegtenis geneem is in verband met ‘n beweerde onwettige begrafnisversekeringskema. Cosatu se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, sê die voormalige burgemeester moet bedank om die publiek se vertroue te herstel en inwoners se finansiële las te verminder:
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het die konsep Wetsontwerp op Petroleumprodukte vir openbare kommentaar vrygestel. Die wetsontwerp sal die wet van 1977 vervang, wat lisensiëringsprosesse en afdwingingsbevoegdhede vir beheerders en inspekteurs verbeter. Dit stel nuwe kategorieë vir gesertifiseerde groothandelaars en grootmaatkopers bekend, ondersteun ekonomiese hervorming en verseker voorsieningsekerheid. Die wetsontwerp verleen ook aan die minister magtiging om finansiële voorsienings vir rehabilitasie te reguleer.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het in Londen met Libanon se eerste minister, Najib Mikati, vergader oor Israelse aanvalle op die land terwyl Washington druk uitoefen op Beiroet om Hizbollah vas te vat. Blinken het op pad terug van die Midde-Ooste met Mikati vergader, wat die vorige dag op ‘n konferensie oor Libanon in Parys was. Amerika is Israel se belangrikste politieke en militêre bondgenoot en eis nog nie ʼn onmiddellike skietstaking nie, terwyl Israel Libanon bombardeer en die Irans-gesteunde Hizbollah-magte teiken.
# Sokker: Die kaptein van Bafana Bafana, Ronwen Williams, is in drie kategorieë benoem vir die 2024 Konfederasie van Afrikasokker-toekennings. Hy is benoem as Speler van die Jaar, Doelwagter van die Jaar en Interklub Speler van die Jaar. Bafana se breier, Hugo Broos, is as Afrigter van die Jaar benoem. Bafana is benoem as Nasionale Span van die Jaar en Mamelodi Sundowns as Klubspan van die Jaar. Williams is na sy indrukwekkende seisoen ook vir die Tashin-trofee benoem op die Ballon D’Or-toekennings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-661-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-718-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….