Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê die ANC gaan op groot skaal ingryp oor spaza-winkels
# Rampspanne is op ‘n hoë gereedheid in KwaZulu-Natal terwyl gure weer voortduur
# En die Amerikaanse president vereer vermaakkunstenaars in die Withuis
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party gaan op groot skaal ingryp na verskeie voorvalle van voedselvergiftiging by spaza-winkels. Ses kinders is in Naledi, Soweto, dood nadat hulle na bewering besmette snoepgoed by ‘n spaza-winkel gekoop het. Mbalula sê die ANC sal die verantwoordelike ministers byeen roep vir antwoorde oor die kwessie en saam met provinsies werk om die situasie onverwyld op te los:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, sê rampspanne is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag met gure weer wat na verwagting vandag die provinsie sal beïnvloed. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku oor swaar reënval, donderstorms en moontlike oorstromings. Senzelwe Mzila van die departement, het inwoners versoek om versigtig te wees, veral op paaie, aangesien ongunstige weerstoestande aansienlike gevare inhou:
Gift of the Givers bepaal intussen die vloedskade in die Oos-Kaap terwyl hulle inwoners in Gqeberha en Kariega na swaar reën in veiligheid bring. Weerdiens het intussen ‘n Oranje Vlak 6-vloedwaarskuwing uitgereik. Woordvoerder Mario Ferreira sê noodlenigingsentrums huisves diegene wat ontruim is, terwyl oorstroomde paaie toegang tot sommige gebiede versper. Hy sê meer as vyf-duisend maaltye word beplan vir verspreiding vandag:
# Sokker: Liverpool se kaptein, Virgil van Dijk, is tans in die laaste maande van sy kontrak en sê hy voer tans gesprekke met die regte mense oor sy toekoms by die klub. Die Nederlander is een van ‘n hele paar hoëprofiel-spelers wie se kontrakte aan die einde van die seisoen verstryk. Daar is ook onsekerheid oor die toekoms van Mohammed Salah en Trent Alexander-Arnold. Soos sake nou staan kan die drietal voorkontrak-voorwaardes vir Januarie met buitelandse klubs beding maar volgens Van Dijk voer hy gesprekke om sy kontrak by Anfield te verleng.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-904-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-734-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse president, Joe Biden, het vermaakkunstenaars soos Steven Spielberg, Missy Elliott, Spike Lee en Queen Latifah in die Withuis vereer. Hy het die ontvangers van 2022 en ’23 se nasionale medaljes vir Kunste en Geesteswetenskappe vereer. Die Kunste-medalje is die hoogste eer wat aan kunstenaars toegeken word en gee erkenning aan uitstaande persone en organisasies wat die kunste in Amerika bevorder. Die kategorie vir geesteswetenskappe het die onderwysers Robin Harris, Robert Martin en Ruth J Simmons ingesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….