Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verseker ‘n belegging van 272-miljard-rand vir kragprojekte
# Die ANC vra ‘n ondersoek na vermeende politieke sabotasie te midde van kragonderbrekings in Tshwane
# En, tennis: Die beseerde Naomi Osaka se seisoen kom tot ‘n einde
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het aangekondig Suid-Afrika het 272-miljard-rand van Europese beleggers bekom vir die Onafhanklike Kragprodusente-program. Hy het tydens ‘n nuuskonferensie gesê die belegging weerspieël vertroue in Eskom en beoog om skoner energie deur deursigtige bodprosesse te bevorder. Ramokgopa het beklemtoon hoe belangrik dit is om elektrisiteitskoste te verminder terwyl die land nou 208 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag behaal het:
# Die ANC in Tshwane het diep kommer uitgespreek oor voortdurende kragonderbrekings wat verskeie dele van die stad raak. Die party vra ‘n ondersoek na die voortslepende kragonderbrekings, wat hulle vermoed deel vorm van ‘n politieke sabotasiepoging om die nuwe administrasie onder leiding van burgemeester Nasiphi Moya te ondermyn. Die ANC se streeksekretaris, George Matjila, beloof om dienste vir inwoners te verbeter te midde van ontwrigting, en doen ‘n beroep op die publiek om geduldig te wees terwyl hulle hierdie uitdagings aanpak:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die aanklagte laat vaar teen die vierde beskuldigde in die saak van die vermiste Joslin Smith. Lorentia Lombaard het vandag saam met Joslin se ma, Kelly Smith, en haar medebeskuldigdes, Jacquin Appollis and Steveno van Rhyn, in die Landdroshof in Vredenburg aan die Weskus verskyn. Die drietal word aangekla van mensehandel en ontvoering. Die volgende hofverskyning is op 31 Januarie vir voorverhoor-verrigtinge. Joslin het op 19 Februarie in Saldanhabaai verdwyn terwyl sy in die sorg was van Appollis, haar ma se kêrel.
# Die Israelse Weermag het oornag ‘n reeks geteikende aanvalle in Libanon uitgevoer op tientalle plekke wat Hezbollah gebruik om sy bedrywighede te finansier. Volgens Israel is stappe gedoen om burgerlikes te beskerm, insluitend vooraf waarskuwings oor die aanvalle. Reuters berig honderde mense in Beiroet het uit hulle huise gevlug en paniekerig in die strate saamgedrom. Israel se teiken was die Qard al Hassan-eenheid van Hizbollah wat agente betaal en help wapens aankoop. Gewone Libanese gebruik ook die instelling, wat 30 takke in die land het.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka, se seisoen het tot ‘n einde gekom. Sy het weens ‘n besering onttrek aan volgende maand se Billie Jean Kingbeker-eindtoernooi in Spanje. Die Japannese voormalige wêreld nommer een het dié maand ‘n rugbesering opgedoen tydens die Chinese Ope, voor sy die Japanse Ope en die Pan-Pasifiese Toernooi oorgeslaan het. Osaka is tans 56ste op die ranglys nadat sy dié seisoen teruggekeer het van ‘n swangerskapsonderbreking. Sy hoop om betyds reg te wees vir die ASB Classic- toernooi in Auckland einde Desember.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-441-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-730-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….