Nuus 14:00
BULLETIN 14 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie word gevra om bevindings te maak oor Carrim se huidige getuienis
# Kumba-ystererts sluit ‘n ooreenkoms met ‘n Chinese groep
# En rugby: Die Bulle verwelkom twee Bokke terug vir die wedstryd teen die All Blacks
# Getuienisleier Adila Hassim het die Madlanga-kommissie versoek om bevindings oor die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, te maak op grond van vorige getuienis. Hy het weer nie opgedaag nie, ondanks ‘n beslissing dat hy ‘n onafhanklike mediese ondersoek moet ondergaan om sy afwesigheid te regverdig. Hassim sê die kommissie behoort gevolgtrekkings te maak oor uitstaande kwessies en moet Carrim se afwesigheid aanteken vir moontlike verwysing na die betrokke owerhede:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor opmerkings van die ekonoom Dawie Roodt dat onderwysers se salarisse halveer moet word sodat die regering meer onderwysers in diens kan neem. Die vakbond stem saam Suid-Afrika benodig dringend meer onderwysers om oorvol klaskamers uit te skakel en onderrig en leerwerk te verbeter. Die woordvoerder, Claude Naicker, verwerp egter die voorstel dat salarisse van bestaande onderwysers gesny moet word om dit te vermag:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom, het ‘n dringende vergadering met die burgemeester van Emfuleni, Hassan Mako, Rand Water en die Vaal-korporasie vir Waterdienste belê met die doel om watersuiwerings-dienste in die Vaalgebied bestendig te kry en verdere rioolstortings in die Emfuleni-munisipale gebied te voorkom. Bloom sê ‘n tussentydse bedryfs-ooreenkoms sal vandag onderteken word om te verseker werk duur sonder onderbreking voort in die 44 watersuiwerings-aanlegte:
# Kumba-ystererts van Suid-Afrika, wat deel is van Anglo American, het ‘n ooreenkoms gesluit met China se Minerale Hulpbronne-groep om ystererts aan Chinese meulens te verskaf. Bloomberg berig die ooreenkoms dek verskepings vanaf 1 April vanjaar tot 31 Maart volgende jaar. China is verantwoordelik vir meer as die helfte van Kumba se uitvoerverkope. Die ooreenkoms bied groter sekerheid aan Kumba te midde van voortdurende veranderings in China se ystererts-mark. Die Chinese groep verteenwoordig meer as die helfte van Chinese staalvervaardigers in onderhandelings met internasionale myngroepe.
# Rugby: Die Springbok-voorspelers Elrigh Louw en Johan Grobbelaar is op die Bulle se bank ingesluit vir môre se wedstryd teen die All Blacks nadat die nasionale span hulle vrygestel het. Albei het vir Suid-Afrika gespeel in verlede naweek se oorwinning oor Argentinië. Afrigter Johan Ackermann sê dis wonderlik om hulle in sy span te hê nadat hy vroeër erken het die meeste van die spelers is nie wedstrydfiks na die af-seisoen nie. Die Bulle het nie gesê watter spelers onttrek is aan die span wat gister aangekondig is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-786-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-350-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….