Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verbind hom tot die ondersteuning van nuwe energievoertuigproduksie in Suid-Afrika
# Die eerste vergadering van die regering van nasionale eenheid se geskiloplossings-meganisme verloop goed
# En, krieket: Nieu-Seeland haal Indië uit vir net 46 in hulle eerste beurt in Bengaluru
# President Cyril Ramaphosa beloof staatsondersteuning vir die vervaardiging van nuwe energievoertuie in Suid-Afrika, namate die land oorskakel na ‘n groener motorbedryf. Hy het op die Suid-Afrikaanse Motorweek gesê die land moet hom gereed maak vir die stygende vraag na elektriese en hibriede voertuie. Volgens Ramaphosa werk die regering aan beleid om vervaardigers te help en belastingkortings aan verbruikers te bied:
# Die eerste vergadering van die regering van nasionale eenheid se geskiloplossings-meganisme het goed afgeloop. Ramaphosa het die meganisme ingestel om beleidsgeskille binne die regering op te klaar. Dit sal kyk na voorbereidings vir die G20-vergadering wat Suid-Afrika volgende jaar aanbied, voorbereidings vir die Nasionale Dialoog en beleidsuitdagings soos die BELA-wet. Dit sal ook werk om die strategiese mikpunte van die regering te behaal, insluitend die strewe om armoede te verminder en die hoë lewenskoste aan te pak.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap daarvan beskuldig dat hy kreatiewe rekeningkunde gebruik om die reuse e-tol-skuld af te skryf. Die organisasie beweer Sanral het e-tol-inkomste oorskat en dit tot meer as ses-miljard-rand vergroot, terwyl die meeste van hierdie inkomste nie ingevorder kan word nie. Hulle eis ‘n onafhanklike ondersoek na die agentskap se finansiële gebruike. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê die agentskap se e-tolskuld het gestyg tot byna 29-miljard-rand, waarvan die meeste as foutief bestempel is:
# Krieket: Matt Henry en William O’Rourke het verwoesting gesaai onder die Indiese kolwers en die gashere vir net 46 lopies uitgeboender in hulle eerste beurt in Bengaluru. Indië se kaptein, Rohit Sharma, het die loot gewen nadat die eerste dag gister heeltemal uitgereën het. Die eerste paaltjie het geval met net nege lopies op die telbord en die hele span was binne 32 boulbeurte terug in die pawiljoen nadat Henry vyf paaltjies laat kantel het en O’Rourke vier. Vyf kolwers is vir ‘n nulletjie uitgehaal. Nieu-Seeland het Indië se telling sonder verlies verbygesteek en kort voor uitskeityd gestaan op 160 vir drie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-179-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-681-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vryheidsfront Plus wens alle matrieks sterkte toe met die eindeksamen wat Maandag begin en tot 28 November duur. Dit geld vir leerders wat die Onafhanklike Eksamenraad en die Nasionale Senior Sertifikaat se eksamen skryf. Wynand Boshoff van die VF Plus sê wanneer ʼn leerder vir graad een inskryf, is die hoofdoel om 12 jaar later matriek te skryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….