Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vasstelling van Mapisa-Nqakula se korrupsieverhoordatum word uitgestel tot Desember
# Die voormalige Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane groet die EFF
# En, krieket: Bangladesj skors sy hoofafrigter nadat hy ‘n speler aanrand
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die bepaling van ‘n hofdatum vir die korrupsieverhoor van die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, tot 5 Desember uitgestel. Haar verdedigingspan het toegang tot gedeeltes van die dossier versoek. Sy word daarvan beskuldig dat sy miljoene rand aan omkoopgeld gevra het terwyl sy minister van Verdediging was. Staatsaanklaer Bheki Manyathi het tydlyne versoek om verdere vertragings te voorkom:
# Die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het afskeid geneem van die EFF. Sy het haar bedanking op X bekendgemaak en die party bedank vir sy ondersteuning na haar verwydering en ondersoeke na die CR17- en Phala Phala-skandale. Sy meld in haar brief sy het na deeglike oorweging en besprekings met haar familie besluit dit is tyd om terug te staan, te rus en te fokus op haar geliefdes. Mkhwebane het ʼn jaar gelede na haar afdanking weens onbevoegdheid, by die EFF aangesluit en daarna ʼn parlementslid vir die party geword.
# Die Maritieme Sakekamer sê die regering sleep voete om die geleentheid aan te gryp van sowat 27-miljard vate moontlike olie- en gasbronne aan sy suid-, wes- en ooskus. Die voorsitter van die kamer, Unathi Sonti, sê buitelandse olie- en gasbronne het die potensiaal om die land se ekonomie ʼn stewige hupstoot te gee. Hy sê Suid-Afrika sal baat by die ontdekking van aansienlike buitelandse gasreserwes langs die kus van Mosambiek:
# Voorstanders van openbare gesondheid in die sektore vir tabak, alkohol en suikerbeheer het die Gesondheidsbelasting-alliansie in Kaapstad bekendgestel. Die alliansie gaan voorspraak maak vir hoёr belasting op skadelike produkte, insluitend tabak, alkohol en drankies met ʼn hoё suikerinhoud, in ooreenstemming met riglyne van die Wêreld-gesondheidsorganisasie. Kampvegters voer aan hierdie belasting kan siektes verminder, lewens red en inkomste skep. Die alliansie vra regeringsoptrede om die druk op die oorlaaide gesondheidsorgstelsel te verlig aangesien nie-oordraagbare siektes miljarde-rand kos.
# Krieket: Bangladesj se beheerliggaam het hoofafrigter Chandika Hathurusingha geskors vir wangedrag omdat hy na bewering ‘n speler aangerand het. Die president van Bangladesj se Krieketraad, Farugue Ahmed, het die aankondiging gedoen sonder om besonderhede te gee. Hathurusingha, ‘n gewese kolwer van Sri Lanka, het verlede jaar teruggekeer na ‘n geslaagde vroeëre tydperk. ‘n Gewese veelsydige speler van Trinidad, Phil Simmons, is aangewys as waarnemende breier vanaf dié maand se twee toetse teen die Proteas tot na die IKR Kampioenetrofee-toernooi in Pakistan in Februarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-729-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-677-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….