Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkomstediens skakel met die bedryf om brandstoftekorte te voorkom
# ‘n Onderwysaktivis vra die Departement Basiese Onderwys om sy appèlaansoek terug te trek teen leerders wat gekul het
# En Zimbabwe bevestig sy eerste twee gevalle van A-pokke
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verwerp bewerings dat vertragings met die uitreiking van brandstoflisensies tekorte met stralerbrandstof veroorsaak. Die diens verduidelik nakoming van die Wet op Doeane en Aksyns is ‘n uitdaging vir sommige brandstofmaatskappye. Raffinaderye wat met infrastruktuurkwessies worstel, het oorgeskakel na invoergebaseerde modelle. Die inkomstediens het tydelike opberginglisensies uitgereik om ontwrigting met verskaffing te voorkom en werk daadwerklik saam met die bedryf om ʼn ononderbroke beskikbaarheid van brandstof te verseker, maar terselfdertyd aan die regulasies te voldoen.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het die Departement van Basiese Onderwys gevra om dit te oorweeg om sy appèlaansoek terug te trek teen leerders wat ‘n hofsaak gewen het nadat hulle in 2022 gekul het. Hy sê die departement moet sonder ‘n strafbenadering eerder herstellende maatreëls instel om die hoofoorsake van bedrog uit te skakel. Makaneta sê belegging in hulpbronne om leerders te ondersteun, die verbetering van onderwyser-opleiding en die verbetering van eksamenprosesse is deurslaggewende stappe om toekomstige voorvalle te voorkom:
# Zimbabwe het sy eerste twee gevalle van A-pokke aangemeld. Die minister van Gesondheid, Douglas Mombeshora, sê ’n 11-jarige seun het in Harare siek geword nadat hy Suid-Afrika besoek het, terwyl ’n 24-jarige man van Mberengwa simptome ontwikkel het nadat hy in Tanzanië gereis het. Albei pasiënte is in afsondering terwyl kontak ondersoek word. Die minister verseker die publiek die situasie is onder beheer:
# Krieket: Australië het hulle groep van 14 lede aangekondig vir die eendagreeks teen Pakistan, geskeduleer van die vierde tot die tiende van volgende maand. Mitchell Marsh en Travis Head is nie ingesluit nie omdat beide op vaderskapverlof is, terwyl Cameron Green herstel na ‘n rugoperasie. Pat Cummins keer terug as kaptein nadat hy die onlangse witbaltoer van Engeland en Skotland misgeloop het om te rus. Marcus Stoinis maak ook sy eendag-terugkeer nadat hy nie gespeel het sedert verlede jaar se Wêreldbekertoernooi nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-834-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die Activists and Citizens Forum sê die voormalige minister van Finansies, Tito Mboweni, wat die naweek dood is, was getrou aan die land, hardwerkend en het korrupsie gehaat. Mboweni se pad as dienaar van die mense het in 1980 begin toe hy die Universiteit van die Noorde verlaat en sy studies laat vaar het om in ballingskap te gaan tydens die hoogtepunt van apartheid. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die land het ‘n patriot verloor:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….